Danksy ’n hardwerkende tuisversorger en haar span, Pretoria-hospitale wat aan ‘n liefdadigheidsuitdaging deelgeneem het en ’n gewillige Pretoria-oos ginekoloog, kon ’n groep hulpbehoewendes in die middestad Kersfees en nuwejaar met genoeg kos op die tafel vier.
Groter voedselsekuriteit vir 2025 is ook moontlik vir die groep inwoners danksy skenkings.
Jacqueline de Lange het reeds in November bewuswording geskep van die nood van sowat 20 inwoners van ’n behuisingskompleks in die middestad in Lilian Ngoyistraat, The Inn.
Sy en ’n groep vrywilliger-tuisversorgers van die e-Kerk voorsien op ’n gereelde basis gekookte kos en maaltye sowel as kospakkies aan die hulpbehoewendes.
Die inwoners van The Inn in Hofmeyer-huis was in dié stadium boonop as gevolg van die verkoop van die gebou nog meer as gewoonlik aangewese op hulp aangesien hul van blyplek na Tau-village in Strubenstraat moes verskuif.

’n Barmhartige samaritaan, dr. Anneen Venter, het De Lange se oproep om hulp raakgesien en die bestuur van verskeie mediese instellings genader om aan ’n liefdadigheidsuitdaging deel te neem.
Genoeg kos is vir die inwoners ingesamel vir die nuwe blyplek sowel as om vanjaar kospakkies te kan ontvang.
Daarby, is daar aan die wenslysies van die inwoners in die gees van Kersfees voldoen.
Personeel van Huis Herfsblaar in die Moot het ingespring om met die vervoerwerk van skenkings na ’n sentrale punt te help.
“Die mooiste uit die hele projek is hoe die gemeenskap van die ooste tot in die weste hande gevat het en steeds vat om te help. Dis ongelooflik hoe kinders van God Jesus se liefde leef soos Stephan Joubert van e-Kerk altyd sê,” sê De Lange.
Van die vorige inwoners van The Inn het nou reeds in hul nuwe tuiste wortel geskiet en hul nuwejaarsete by De Lange en haar span in Tau Village ontvang.
Die kompleks word deur Yeast City Housing bestuur, die eerste maatskaplike behuisingsmaatskappy in Tshwane en een van die eerstes in Suid-Afrika. Die maatskappy werk binne die raamwerk van die Wet op Maatskaplike Behuising.
Mediese instellings het met groot ywer ingekoop om aan ’n kompetisie rondom die insameling van kos deel te neem en het hul eie prettige kategorieë geskep.

Deelnemers was onder meer: Netcare Pretoria-Oos, Mediclinic Kloof, Netcare Unitas, Life Wilgers, Life Groenkloof, Urologie-hospitaal, die Oog Instituut, Netcare Jakaranda, Netcare Montana en Netcare Femina.
Die wenners in die Kersfees 2024 Liefdadigheiduitdaging se kategorieë is soos volg:
– Meeste produkte ingesamel: Die Oog-instituut
– Mees kreatiewe foto: Mediclinic Kloof-hospitaal
– Mees inspirerende boodskap: Urologie-hospitaal
Verskeie kerke soos die Tehillah Familiekerk, maatskappye soos Virgin Active Silver Lakes en ander instansies het ook bygedra om aan wenslysies te voldoen en voorraad vir kospakkies te voorsien. Die Lions het gesorg vir ’n wavrag geskenke.
Venter sê sy is so beïndruk met hoe hospitale, inwoners en gesondheidsorgwerkers sowel as gemeenskapsorganisasies saamgestaan het om die gemeenskap en diegene sonder kossekuriteit te help.
’n Droom het ook vir ’n inwoner waar geword toe hy ’n paar splinternuwe tekkies ontvang het.
“Dankie Pretoria dat julle die Kersfees 2024 Liefdadigheidsuitdaging ’n sukses gemaak het,” sê Venter.
– Kliek hier om die Kersfees 2024 Liefdadigheidsuitdaging te sien:
LEES OOK: Mini-kunstefees laat leef nostalgiese gunstelinge
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter, Instagram en TikTok blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!