South Africa

Mini-kunstefees laat leef nostalgiese gunstelinge

’n Afrikaanse musiekfees in die kleine gaan einde Januarie in Pretoria ’n nostalgiese terugblik wees op die voetspore van liedjieskrywer Jannie du Toit en musikante wat saam met hom optree en opgetree het.

Met van hierdie herdenkingskonserte gaan daar ook ’n terugblik wees op die groei van die luisterliedjie-beweging in Afrikaans sedert die sewentigerjare.

Vir millenniërs en die Gen Z-generasie is ’n luisterliedjie dalk net so vreemd soos dit vir Du Toit was toe hy in 1979 in ’n platewinkel in Amsterdam na die oorsprong van die woord en luisterliedjie-musiekplate opsigself gesoek het.

“Ek wou uitvind wat die gevoelvolle woord beteken en hoe die musiek klink. Die toonbankassistent het vir my Herman van Veen gespeel en ek het amper op my rug geval om die soort-van modern folk liedjie met amper Afrikaanse woorde te hoor,” verduidelik Du Toit. “Dit was so ’n sagte aanslag. Ek kon elke woord verstaan.”

In hierdie platewinkel het die bekoring van die luisterliedjie vir hom begin.

Met net sy kitaar in die hand, het hierdie ervaring uitgeloop op die eerste Nederlandse liedjie wat hy in 1984 op die Staatsteater in Pretoria se verhoog sou sing.

“Dit was die begin van 40 jaar van bande met taal, musiek en kunstenaars wat net inniger geknoop het,” vertel Du Toit.

Hy vier hierdie verbintenis met Nederlandse musiek tydens die mini-kunstefees met ’n nuwe aanbieding, De wals van de liefde.

“Ek het die program gekies omdat by my konserte is daar altyd weer versoeke vir my Hollandse liedjies soos ‘Marieke’ van Brel, en ‘De kleine man’ van Louis Davids.”

Vir Du Toit was sy kennismaking met Nederlandse liedjieskrywer, Jules de Corte se musiek ’n hoogtepunt op sy pad met musiek uit die lae lande.

Maar vir die musikant wat in sy lewe al verhoë met talle ander bekendes gedeel het, is die kunstefees ook ’n geleentheid om met herdenkingskonserte ander innige musiekverbintenisse met vertonings te vier.

Hy vertel laggend hoe hy die eerste keer opgetree het by die Laerskool Grootvlei in sy standerd 2-jaar toe hy die rol van ’n kat vertolk het in ’n operette.

Een van die musikale verbintenisse wat gevier gaan word, is die musiek wat hy en tjellis Susan Mouton al saam gemaak het.

Dit is veral die immergroen Gisela de Villiers-liedjie “Die eggo van jou oë” waarondom hy hierdie gelyknamige herdenking gaan anker.

Dis veral ook die konsert rondom die werk en lewe van liedjieskrywer van die Weskus, Marie Tredoux, waarna hy uitsien.

Die twee musikante loop ’n lang pad vandat Tredoux se man, Nic, vir hom hierdie legende van Jacobsbaai se liedjies op kassette aangestuur het toe Marie 59 was en Du Toit 37.

Vandag woon Tredoux nog aan die Weskus en stap sy aan na haar middel-negentigs.

Hy vertel hoe Nic geglo het “die liedjies moet op ’n plaat kom. Ek het die stapeltjie deurgeluister en besef dit is ’n rare skat.”

Van die liedjies van Tredoux wat in die uitvoering vertolk gaan word, sluit in “Die maan deur ’n gaatjie in die nag”.

Dié liedjie is ook die titel van die vertoning.

Uit haar pen het liedjies soos “Mis oor Jacobsbaai” gevloei.

As ’n toegif tot al die nostalgie, vertel Du Toit ook die verhale rondom Margaretastraat se sang-aande in die vroeë tagtigerjare in ’n aparte vertoning, Margaretastraat.

Met hierdie aande is die basis van die Afrikaanse luisterliedjiekuns vasgelê. Hy sing ook van die liedjies wat vir die eerste keer by sy huis in Pretoria, Margaretastraat 28, in die sewentiger- en tagtigerjare gehoor is.

“Vir my is dit self ’n nostalgiese reis,” bevestig Du Toit, “al is ek lankal nie meer daai outjie in die platewinkel in Amsterdam nie.”

Die kunstefees in die kleine met die vier vertonings word oor die naweek van 25 en 26 Januarie aangebied. Die vertonings is Die maan deur ’n gaatjie in die nag, Margaretastraat en De wals van de liefde by die Fairtree Atterbury Teater en die Eggo van jou oë by die Cowfish-restaurant.

Besoek www.janniedutoit.com/webfiles/janniedutoit-kleinkuns25 vir meer inligting. Van die ander musikante wat saam optree is Chanie Jonker, Susan Mouton en Marcel en Deryn Dednam.

LEES OOK: Clean water on the horizon for Hammanskraal

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

About the author

Blessing Obinna

Blessing Obinna is a dynamic journalist with a passion for uncovering stories that matter. She specializes in entertainment, lifestyle, and societal trends, bringing fresh perspectives to every article she writes for eNews Nigeria.