“Ek daag besoekers en inwoners uit om Pretoria se bestemmingskatte vir hulself hierdie feestelike tyd te ontdek. Die feestyd en somervakansietyd is vir my juis die regte tyd hiervoor.”
Só sê Susan Marais, ondervoorsitter van die Tshwane Toerismevereniging.
“Ek herinner graag inwoners en besoekers aan ons stad aan my gunstelinguitstappies en -bestemmings waarvan hulle dalk al vergeet het. Ek deel ook graag die beste nuwe geheime plekkies regoor ons stad wat hulle nog moet ontdek,” sê Marais.
Marais weet waarvan sy praat. Haar gastehuis in Colbyn, 3@Marion Guesthouse, vier volgende jaar sy tiende verjaarsdag en sy gee reeds ’n geruime tyd vir besoekers raad oor plekke om te besoek.
Wanneer daar ’n blaaskans is, is dit haar gunstelingtydverdryf om haar gesin, Gerhard (45), Linneke (16), Amelie (14) en Gerhard Jr. (10) “teen ’n berg op te sleep” en die natuurskoon te geniet.
Marais het ook vanjaar hard gewerk om aan die vereniging se promosie om Pretoria te laat voldoen aan die toerismeleuse: “The wildest capital on earth!”
’n Suksesvolle veldtog het later vanjaar gevolg om by wyse van ’n rekenaartoepassing op ’n selfoon ook gestalte te gee aan die vereniging se ander leuse: “The safest capital on earth”.
“Hierdie Desember, skakel gerus die filmstroomdienste af en gaan skep herinneringe, ontmoet nuwe mense en sien die wêreld vanuit ’n nuwe perspektief,” beveel sy aan.
Sy beveel die volgende Top 5-avonture vir die feestye en somervakansie in Desember in Pretoria aan:
Kersinkopies by ’n mark
Marais glo die beste manier om ’n plek en sy mense vinnig beter te leer ken, is by ’n mark waar jy kan skouers skuur met die mense van daardie area en na plaaslike produkte kan teen die beste pryse kan snuffel.
Dis ook hier volgens haar wat jy “van die beste en varsste kos” kan geniet.
Een van haar twee Pretoria mark-gunstelinge is die Irene Village Market in Centurion.
“Hierdie mark is veral bekend vir handgemaakte Suid-Afrikaanse produkte. Die mark word aangebied op die terrein van die Sunlawn-landgoed en is hondvriendelik. Dit is oop elke eerste en laaste Saterdag. In Desember is daar ook ’n mark op 14 en 15 Desember,” vertel sy.
Marais se ander markgunsteling is Market at the Sheds.
“Hierdie binnestadmark word by 102 Central-plaza in Helen Josephstraat in die middestad van Pretoria aangebied. Plaaslike entrepreneurs wys hier veral handgemaakte produkte. Die mark is elke eerste Saterdag van die maand oop. ’n Bonus is die veilige en gratis parkering. Daar is wel ’n toegangsfooi tot die mark” sê Marais.
Platsakopsie: Verskeie kerke en skole (selfs in die vakansie) bied kersmarkte aan waar jy ’n winskopie kan opspoor. Sommige kerke het ook ’n Kersfeestafel met geskenke in die kerk se voorportaal waar jy ’n bydrae kan maak of dalk iets te kope kan kry. Hou die Facebookblad “Christmas Markets/Kersmarkte in South Africa” dop vir moontlike geleenthede in Desember.
’n Dag van luilekker ontspanning in die sonskyn
“Ons pragtige hoofstad spog met wonderlike plekke, vriendelike mense en die beste weer in die land! Geniet die sonskyn hierdie somerseisoen by een van ons stad se wonderlike opelug-ervarings,” beveel Marais aan.
Een van haar Pretoria buiteluggunstelinge is die Wolwespruit-area in Erasmuskloof in Pretoria-oos waar talle wandel- en bergfietspaaie is. Fietsryers en stappers kan reeds vanaf 05:30 in die pad val.
Platsakopsie: Veilige parke in Pretoria wat opgeknap is en looppaaie bied, soos die Slothuispark in die Moot in Terblanchestraat, sowel as bome en speelparktoerusting, kan rustige piekniekplekke vir gesinne aanbied. Munisipale swembaddens soos dié waterpark by Zitapark in Garsfontein met sy groot grasperke kan ook tot feestelike pret lei. ’n Gratis opsie is om saam met iemand geveerdes te gaan dophou uit ’n voëlloerhut soos die Austin Roberts-voëlpark in Groenkloof in Pretoria-oos.
Aandete en ’n vertoning
Vir Marais is daar min dinge wat haar en haar gesin soveel vreugde verskaf soos om kunstenaars in lewende lywe te sien optree.
“Ons stad het oorgenoeg opsies vir musiek, toneel, kuns, drama en bykans enige ander vermaak. Baie van hierdie plekke is naby wonderlike restaurante geleë om jou aand af te rond,” beveel sy aan.
Haar Pretoria-gunsteling is die Menlyn Maine-area: “Ons is mal daaroor om in hierdie area te parkeer, heerlik saam te eet en dan saam met die ander besoekers veilig oor die pad te stap na ’n musiekarena vir ’n musiekkonsert,” beveel sy aan.
Platsakopsie vir sonskyn en musiekfeeste: Hou kalenders van buitelugbestemmings soos die Vootrekkermonument en die Pretoria Botaniese Tuin dop waar buitelugkonserte dikwels in vakansies aangebied word. ’n Gratis opsie is kerssangdienste of Kersliedjies-met-kerslig by kerke of winkelsentrums.
Soek die nagliggies op
Vir Marais is die naglewe in Pretoria vol somerpret. Sy glo ’n besoek aan plekke waar veral feesliggies Pretoria se sterrehemel inkleur, is met feestelike tye altyd ’n besoek werd.
Haar Pretoria nagliggies-gunsteling is Hazelwood in Pretoria-oos. “Die straatliggies hang so sig-sag oor die strate en skep ’n feestelike atmosfeer om rond te drentel,” stel sy voor.
Platsakopsie: Die jaarlikse feesliggies in verskeie strate in Pretoria is ’n uitstappie op sy eie werd. Strate om deur te ry waar die liggies kleurvol flonker, is veral Lawleystraat in Pretoria-oos waar jy ook verversings op talle straathoeke sal vind om te koop.
’n Avontuur vir elkeen!
“Ons stad bied ongelooflike avonture vir die waaghalsiges en die versigtiges,” sê Marais. Haar gesin “vlieg graag deur die lug” by die fietspark in Queenswood.
“Dit is binne die hart van Pretoria en is een van die wêreld se grootste stedelike fietsrypaaie. Die fietspark bied verskeie avonture aan geesdriftiges. Daar is ook ’n klimmuur vir die waaghalsiges,” sê sy.
Platsakopsie: Gaan stap of ry fiets in ’n natuurreservaat soos Moreletakloof-natuurreservaat, Faerie Glen-natuurreservaat of Klapperkop-reservaat waar die troppies zebras ’n bonus is en jy ook ’n besoek aan die Klapperkop-fort kan maak.
Kliek hier om ’n video van kersliggies in Lawleystraat te sien:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!