South Africa

Afrikaans 100: Legendariese Weskus-liedjieskrywer gevier

Dis asof ’n vars soutbries oor jou waai wanneer jy na Suid-Afrika se oudste lewende liedjieskrywer se rinkelende laggie luister wanneer sy in haar onopgesmukte Weskus-manier met haarself en haar talent spot.

Marie Tredoux (95) se liedjies vol stemming en met die warmte van ’n Sandveldmiddag, is digkuns en van die voorste luisterliedjies in Afrikaans.

In die jaar wat Afrikaans sy honderdste bestaansjaar as amptelike taal vier, is dit gepas dat hierdie voorste liedjieskrywer gehuldig word tydens ’n konsert in Pretoria.

Of dit nou haar bekende liedjies is soos vertolk deur Laurika Rauch of verwerkings daarvan vir kore soos “’n Regte ou Kaapse reën”, Tredoux se liedjies neem jou na ’n landskap met ’n rustiger pas.

Sy stel dit doodluiters dat sy nie die kuns om ’n liedjie te skryf eintlik verstaan nie.

“Ek het geen idee hoe om liedjiemakery te verwoord nie. Jy maak die liedjie en sing dit een of twee keer. Dan was jy die skottelgoed en die wysie raak weg of bly dalk in jou kop. Van kleins af as ek in die stal gewerk het en hoenderhok skoon gemaak het, het ek al my liedjies so gesing totdat almal sê dis nou genoeg. Ons wil bietjie stilte hê.”

Haar lirieke word beskou as digkuns en die komposisies vergelyk met van die beste in Afrikaans.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings het ook so gevoel. Haar lied “Jacobsbaai se aandlied” is in die FAK-sangbundel opgeneem, ’n gebaar wat Tredoux skaars wou glo. Eers toe die bundel deur die FAK aan haar gestuur is en sy dit daarin gesien het, het sy die prestasie aan haarself erken.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink almal praat nonsens. Ek het gedink hierdie mense van die FAK ken my nie eers nie. Hulle vat ’n vet kans deur my werk uit te lig,” lag sy.

Tredoux is in Tiervlei in Parow in die Wes-Kaap gebore. As een van tien kinders het sy in ’n huis grootgeword met ’n vleuelklavier, maar sy het nooit self musiekopleiding gekry nie.

“Ek en my suster het probeer klavier speel, maar ons is altyd uitgejaag! Sy kon darem later speel en ek het hier en daar ’n swart noot gedruk. Ek het eintlik net gesing.”

Die voormalige welsynwerkster en onderwyseres het mettertyd voortgegaan om te sing in kore. Waar sy ook al gewoon en gewerk het, was daar ’n lied op haar lippe.

“Ek het as welsynwerkster vir die Spoorweë gewerk in so ’n netjiese uniform met wapen en al. As ons so aangekom het by mense met ons bruin leertassies, dan was ons darem kamstig baie belangrik,” dink sy selfspottend terug.

Haar wederhelfte, wyle Nic Tredoux, eens besturende direkteur van die advertensie-agentskap Ogilvy en Mather, het haar altyd gespot dat sy toe-oë loop en sing en van die wêreld vergeet.

Marie het dikwels van Nic se gedigte getoonset.

Vandag dink sy liefdevol terug aan hoe hulle sommerso “in die middel van die nag” mekaar sou wakker maak om saam liedjies te skryf.

“Hy aan die lirieke en ek aan die melodieë. Hy was net vreeslik vals. As ons kerk toe gaan, het die kinders altyd gesê: ‘Mammie moenie dat Pappie sing nie, asseblief.’ Maar liedjies wou hy maak!”

Dis juis Nic wat gesorg het dat Marie se liedjies bekend word deur dit op te neem op kassette. Hy het die stel kassette aan sanger en musikant Jannie du Toit laat in die tagtigerjare gestuur “om ’n plaat daarvan te maak”.

Aan hierdie langspeelplaat se maak, dink sy mymerend terug.

“Ek glo mens moenie ’n liedjie dwing nie. Die wysies het net sommer gekom. Ek het die wysie sommer in my kop vasgehou en dan gesing. Ek het nie geweet hoe om dit in note neer te skryf nie. Dan het ons maar ’n kassetjie daarvan gemaak,” vertel sy.

“Jannie het my liedjies raakgehoor en -gesien. Toe hy sien met ’n besoek ek lyk nie heeltemal soos die duiwel nie, het hy dit bekend gemaak,” spot sy.

Jannie du Toit en Marie Tredoux Foto: Facebook/Marie Tredoux

Du Toit bied steeds konserte aan wat rondom ’n liedjie van Nic fokus: “Die maan deur ’n gaatjie in die nag”. Hy is eersdaags met ’n herdenkingskonsert met hierdie liedjietitel tydens die Kunstefees in die Kleine te siene.

“Dis eenvoudig fantasties hoe sy die presiese akkoordprogressies in haar kop het en die Weskus-mense se lief en leed in haar sielvolle liedjies kan uitdruk,” sê hy.

Vele ander musikante het ook al saamgewerk om van Tredoux se liedjies onder musiekliefhebbers se aandag te bring soos Laurika Rauch wat “Mis oor Jacobsbaai” gesing het. Bekende musikante soos Christa Steyn en Mauritz Lotz het aan vertolkings en verwerkings van Tredoux se liedjies gewerk.

“Jacobsbaai se aandlied” staan vir Tredoux uit as die een liedjie wat sy self nog neurie waar sy op dié prentjiemooi stranddorp aan die Weskus saam met haar dogters en hul gesinne woon.

Terwyl die mis juis opkom op Jacobsbaai, sit sy aan haar mees onlangse liedjie en dink. ’n Liedjie oor die ouderdom rondom die tema, jou 40ste verjaarsdag.

“Lank terug het ek gedink 40 is baie oud. Op 95 weet ek nou om 40 jaar oud te wees, beteken net mooi niks nie.”

– Kliek hier om ’n vertolking van Marie Tredoux se musiek deur Laurika Rauch te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

About the author

Blessing Obinna

Blessing Obinna is a dynamic journalist with a passion for uncovering stories that matter. She specializes in entertainment, lifestyle, and societal trends, bringing fresh perspectives to every article she writes for eNews Nigeria.