South Africa

Kerk se 80ste herdenkingsvieringe voor die deur

DSC 0658 00920 e1713444514522

Op 21 April herdenk die Evangeliese Gereformeerde Kerk SA sy 80ste bestaansjaar.

“Voor die stigting van die kerk, was daar ’n tydperk wat gekenmerk was deur ’n gees van vernuwing en herlewing,” sê die moderator van die kerk, dr. André Bester.

Die bestaansjare asook latere eras in die kerk se geskiedenis, was egter gekenmerk deur leiers wat nie altyd langs dieselfde vuur gesit het nie.

“Hul standpunte was op verskeie draaipunte in die kerk se geskiedenis nie versoenbaar nie en verskille is op die spits gedryf. Dit het die kerk telkens ’n rigtingaanpassing laat maak,” vertel Bester.

Talle van die kerk se lidmate was in ’n stadium deel van die NG Kerk-familie, maar het weggebreek omdat hulle meer tuis gevoel het by die EG Kerk se meer evangeliese bediening.

Bester het self in die NG Kerk as gelowige sy voete op die geloofspad begin rig.

Hieroor brei die vriendelike en beleefde kerkleier uit in sy keurige woning waar sy karaktervolle studeerkamer vol kerk-memorabilia en gesinsfoto’s is.

Hy en sy vrou, Annatjie, beide oud-Brakpanners, woon in Pretoria-oos.

Hul bediening het hul landwyd geneem met Bester wat in Oos-Londen in die Oos-Kaap vir die eerste keer na sy opleiding voltyds in die bediening op ’n preekstoel gestaan het.

Mettertyd sou hy ook in gemeentes van die EG Kerk in Mosselbaai, Wonderboom en Pretoria-oos herder van gemeentes wees. Hy het self as lidmaat by die EG Kerk in 1988 in Kimberley aangesluit.

In 1992 het hy sy opleiding as EGK-predikant begin nadat hy op ’n kerkkamp te Winkelspruit in sy St.6-jaar tot bekering gekom het.

Die glimlaggende predikant met die melodieuse stem dink aangedaan terug aan die jare toe hy sy voete op die kerkpad begin rig het.

“Kerkleiers het veral koppe gestamp in die tagtigerjare, maar daar was ook herstel in die harte van leraars en lidmate. Ons kon nog altyd vorentoe kom deur genade,” vertel Bester.

Genesing is juis ’n belangrike arm van die EG-Kerk volgens Bester, alhoewel die klem geplaas word op goddelike genesing en nie geloofsgenesing nie.

“Ons glo dat jy vandag nog vir genesing kan bid. God genees vandag nog,” sê Bester.

Na 80 jaar staan die kerk se ledetal op sowat 10 000 lidmate.

In Pretoria is daar gemeentes in Pretoria-Tuine, Pretoria-Noord, Wonderboom, Rietfontein, Pretoria-oos en Centurion.

Vir Bester, wat sy doktorsgraad in teologie aan Kovsies verwerf het in 2011, is die talle jongmense in die Pretoria-bediening van die EG-Kerk veral ’n riem onder die hart.

Een van die doelstellings van die kerk by die stigting was om die protestantse beginsels te beskerm en met nuwe krag uit te lewe en te verkondig.

Daar moes ’n voortdurende vernuwing, nuutheid en varsheid van belydenis, ondervinding en boodskap wees.

In die gees is ’n eie Teologiese Seminarie waar predikante vir die bediening opgelei word, in Pretoria gevestig.

“Ons boodskap bly een van liefde en omgee, en om ook hierdeur mense nader aan die Woord te bring,” sê Bester.

– Die 80-jarige feesviering van die EG Kerk vind op die EDEN-konferensieterrein vanaf 19 tot 21 April plaas met talle items op die program – van ’n dankseggingsdiens tot tradisionele boeresport. Meer besonderhede by [email protected].

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.