Toe The Mommy Club: Van Die Hoofstad op ’n televisiestroomkanaal as werklikheidsprogram afgeskop het, het min mense geweet dit gaan ’n rekordbreker wees.
Nou, net ’n paar weke later, het dié werklikheidsreeks Trompoppie verbygesteek as die mees gekykte Afrikaanse program sedert Showmax se herbekendstelling.
Vyf dinamiese mammas, Ansu Viljoen, Crystal van der Burgh, Louise Volschenk, Tessa Tullues en Johandri Johnson, neem kykers saam op hul daaglikse avonture waar hulle hul gesinne grootmaak terwyl hulle ook boonop ’n bydrae tot die huishouding se finansies en die gemeenskap maak.
Van die potte tot die podiums, hierdie ma’s wys dis heel moontlik om beide ’n versorger én ’n bydraer tot die samelewing en die gemeenskap te wees.
Dis nie net babasakke en weggooidoeke vir die vyf veelsydige vroue nie.
Viljoen definieer hierdie veelsydigheid. Met grade van Noord-Wes Universiteit Potchefstroom én Stellenbosch Universiteit, is sy nie net ’n opgeleide hidrogeoloog nie, maar ook ’n suksesvolle entrepreneur met ’n eie juweliersaak.
Tussen kleuters grootmaak, modelwerk en fiksheidskompetisies, wou die fiksheid-geesdriftige toon ma’s het talle fasette en moenie almal saam in een kategorie geplaas word nie.
“Ek wou wys dat daar nie een tipe ma is nie,” sê sy. “Jy kan sterk en sag wees. Jy kan werk en speel. Jy kan drome volg en steeds die gesin se oggendroetine organiseer.”
Die brunet het vir haar eerste fiksheidskompetisie nege maande ná haar seun se geboorte ingeskryf en in die tweede plek op die wennerspodium gestaan.
Sy glo hierdie prestasie het haar laat besef hoe energiek ’n ma regtig kan wees. Vandag is haar seuntjie Hein drie jaar oud en haar dogtertjie Anzelle ’n jaar en ’n half oud.
“Ek glo in eerlikheid en veerkragtigheid,” sê sy. “My kinders moet weet hulle word diep liefgehê, maar ook dat selfrespek en goeie gedrag teenoor ander altyd ons waardes sal wees.”
Vir haar was dit belangrik om eg te wees op die program en nie net die Instagram-weergawe van ouerskap aan kykers te wys nie.
“Soveel mammas het vir my boodskappe gestuur dat hulle nou, met die uitsaai van die program, voel of hulle raakgesien word. Vreemdelinge gee my drukkies omdat ek eerlik was oor die stryd sowel as die lekker van ma-wees. Dít maak al die opofferings vir die program se produksie vir my die moeite werd.”
Soos met enige groep mense waarvan hul persoonlikhede, menings en agtergronde verskil, veral as hulle skielik voor kameras saamgegooi word, was daar spanning.
“Ek het regtig mense leer ken, asook myself,” sê Viljoen. “Daar was botsende persoonlikhede, ja, maar ek het geleer dat almal ’n storie het. En dikwels is die mens wat die mees voortvarende en hardgebak is, juis die een wat die swaarste aan haar omstandighede dra.”
Haar grootste les?
“Ek het besef hoe skaars ware lojaliteit is. Dit was hartseer om te sien hoe maklik mense mekaar afbreek. Ons moet as vroue mekaar begin vier. Daar’s genoeg ruimte vir almal se sukses.”
Aan die ander kant van die spektrum van ma-wees, maar met dieselfde kernwaardes, is Johandri Johnson. Skuins na haar dertigste verjaardag, is sy nie net ’n ma van ’n eenjarige en ’n toegewyde eggenoot nie, maar ook ’n fiksheidskampioen.
Tussen die gewigte en doeke het sy ook tyd gevind om haarself as ’n beïnvloeder te vestig en nou, as ’n geliefde lid van The Mommy Club.
Vir Johnson was dit ’n emosionele ervaring om haarself vir die eerste keer op TV te sien.
“Om myself sag en kwesbaar te sien, het my laat besef hoe sterk ek regtig is,” sê sy. “Dit het seergemaak met tye want ja, ons is almal mens, maar dit het my ook herinner aan my eie sterk punte.”
Haar familie en geliefdes het haar ondersteun van begin tot einde.
“Elke persoon wat my regtig ken, het gesê: ‘Dis presies wie jy is.’ En dis die grootste kompliment. Ek was net myself.”
Soos Viljoen, het sy ook diep lesse geleer oor vriendskap, grense, en innerlike krag.
“Ek het geleer nie almal verdien toegang tot jou energie nie en dis doodreg om so te dink.”
Die reunie-episode lê voor en bring dalk ’n bietjie opklaring ná ’n seisoen vol intrige, inspirasie en introspeksie.
“Ek sien uit om dinge op te klaar waar nodig,” sê Johandri. “Ek het nooit konflik begin nie. Ek kies my gevegte en ek hou nie van hoërskooldrama nie. Ek hou my afstand. Dit verg ook krag.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!