Die Solidariteit-beweging, met vennote AfriForum en die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum, beoog om reeds vroeg in Januarie twee stappe te neem om die ten volle inwerkingstelling van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette oftewel Bela-wet teë te staan.
Die wet ken onder meer aan provinsiale onderwysdepartemente die finale gesag toe om skooltaal- en toelatingsbeleide te bepaal.
Bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, het aan Rekord gesê dat die organisasie beoog om die Minister van Onderwys op terme te plaas.
So wil hulle verhoed dat die tydperk tussen die promulgering van die wetgewing en die inwerkingstelling van die regulasies, beleid, norme en standaarde wat nog geformuleer moet word onder leiding van die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, nie deur politieke opportuniste misbruik word nie.
“Ramaphosa, Lesufi en kie onderskat hoe diep Afrikaanse mense oor onderwys in hul eie taal asook moedertaalonderwys vir almal voel. Ons gaan nie ophou nie. Ons sal seker maak dat skole nie deur boeliegedrag van amptenare geïntimideer word nie,” sê Hermann.
“Daardie regsbrief is nog in Januarie onderweg na die minister. Die Bela-wet mag nie geïmplementeer word voor regulasies, beleid, norme en standaarde ontwikkel is nie. Sulke spesifikasies sal regskrag hê. Die formuleringsproses kan nog 18 maande duur. Dis ’n risikotyd,” glo Hermann.
Hy het ook bevestig dat die organisasie se regspan tans hul vertoë saamstel om die inwerkingstelling van die omstrede klousules 4 en 5 van die wetgewing te betwis.
“Ons geveg gaan voort. Solidariteit se regspan staan gereed vir regs-aksie. Ons hou die moontlike eersdaagse proklamasie met valkoë dop,” het Hermann op 2 Januarie bevestig toe daar nog geen kennisgewing rondom die nuwe wet in die Staatskoerant verskyn het nie.
“Bela is dus nog nie wet nie – al sê die president so.”
Solidariteit se regsaksie sal volgens hom volg ná die publikasie van die promulgeringskennisgewing van die Bela-wet in die Staatskoerant.
“Die promulgeringskennisgewing opsigself soos aangekondig is geensins voldoende nie. Wanneer dit by ons kinders kom, gaan ons nie tevrede wees met beloftes in ’n verklaring van die President wat nie in die Staatskoerant verskyn nie. Die promulgeringsverklaring probeer radikales paai.”
Hermann bevestig dat die regspan se strategie sal fokus op die gebrekkige openbare konsultasieproses in die opbou na die daarstelling van die wetgewing, dat die promulgeringskennisgewing self wetlik tekort skiet. Litigasie sal asook op tegniese tekortkominge van die wet toegespits wees.
“Ons sal ook redeneer die promulgeringskennisgewing is irrasioneel. Twee weke voor die aankondiging is ’n bindende ooreenkoms met Nedlac, die minister van Onderwys en presidensiële verteenwoordigers aangegaan en is daar aanbeveel dat die twee omstredes klousules nie in werking gestel word alvorens regulasies in plek is nie,” sê hy.
“Twee weke daarna toe swaai als om. Die wet is goedgekeur en nou word regulasies geskryf. Dit maak net nie sin nie,” sê Hermann.
President Cyril Ramaphosa het alle afdelings van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette amptelik onderteken op 13 Desember met die goedkeuring van partye binne die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) na ’n konsultasietydperk van drie maande.
Ramaphosa het tydens die ondertekeningseremonie by die Uniegebou gesê die ondertekening van die wetsontwerp was ’n belangrike stap in die rigting van die oplossing van die deurlopende uitdagings in die land se onderwysstelsel.
Hy het ook benadruk die RNE se konflikoplossingsmeganisme het die volle implementering van die Bela-wet aanbeveel sonder om dit aan die Parlement terug te stuur vir wysigings oor omstrede klousules 4 en 5.
Hierdie besluit is deur leiers van partye in die RNE onderskryf.
John Steenhuisen, DA-leier en Minister van Landbou, het Ramaphosa se verklaring ook verwelkom en in ’n verklaring gesê dat die inwerkingstelling ’n “wen-wen-kompromis” is.
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie sê dat dit die inwerkingstelling van die bepalings rondom taalvoorskrifte en beheerliggame ten volle ondersteun, aangesien sommige skoolbeheerliggame voorheen hierdie beleide gebruik het om leerders onregverdig van skole uit te sluit.
Dr. Pieter Groenewald, Minister van Korrektiewe Dienste en Vryheidsfront Plus-leier, glo die regulasies wat opgestel moet word deur die onderwysminister, sal wel die probleme rondom die omstrede klousules oor taal en toelatingsbeleid kan ondervang.
Groenewald het in ’n verklaring gesê dat hy glo hierdie regulasies sal die nodige beskerming bied.
“President Ramaphosa het ook aan ons die versekering gegee die Minister van Onderwys sal genoeg tyd gegun word om die regulasies en norme op te stel. Die Vryheidsfront Plus sal die proses versigtig monitor,” benadruk Groenewald.
Voorsitter van AfriForum, Flip Buys, glo “die DA-leier het ’n fout gemaak om die inwerkingstelling van Bela te steun en as ’n oorwinning voor te hou. Al kon die DA en die VF Plus dit nie maklik stop nie, moes hulle dit nie gesteun het nie. Solidariteit se ooreenkoms met die Minister van Onderwys is feitlik die enigste beskerming van Afrikaanse skole teen radikales in die ANC. Die Bela-wet is ondemokraties, omdat dit ’n ANC-wolf in RNE-skaapsklere is.”
LEES OOK: Meer as 10 000 optoggangers: “Bela is boos!”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!