Die ondersoek van die Gautengse Departement van Onderwys oor die hoof van die Hoërskool Waterkloof, Chris Denysschen, is afgehandel maar die bevindings is nog nie bekend gemaak nie.
Woordvoerder Steve Mabona bevestig die ondersoek is voltooi.
“Die departement sal nou voortgaan om ’n dissiplinêre proses in te stel en daarmee voortgaan. Die skoolhoof se terugkeer na die skool reeds op 13 Desember 2024 sal nie hierdie proses belemmer nie,” sê Mabona.
Hy bevestig verder dat die skoolhoof deur die departement toegelaat is om terug te keer.
Mabona het vantevore verduidelik dat die 90 dae waartydens die skoolhoof na die departementele kantore oorgeplaas is, ’n voorsorgmaatreël was om die ondersoek ongesteurd te laat voortgaan.
Die ondersoek is in September 2024 geloods nadat Denysschen op 12 September versoek is om tydelik sy pos te ontruim en by die streekskantoor van die departement aan te meld.
Hierdie stap is deur die departement geneem in opvolging van klagtes van ouers, leerders en personeel wat na bewering by die departement teen die skoolhoof aanhangig gemaak is.
Van hierdie klagtes het, volgens ’n Centurion-prokureur wat gegriefde ouers verteenwoordig, Steve Heffermann, onder meer beweerde ontoepaslike opmerkings teenoor leerders deur die skoolhoof ingesluit.
Denysschen het met die verstryking van die periode op die laaste skooldag verlede jaar, 13 Desember, vanuit sy kantoor in ’n video leerders, personeel en ouers ingelig dat hy vir diens aangemeld het en in die nuwe jaar op die eerste skooldag ook sy diens sal hervat.
Volgens Dems Nel, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het Denysschen, se eerste dag “baie goed verloop en hy is goed ontvang by die skool”.
Nel het ook benadruk die ondersoek is ook nou afgehandel volgens ’n brief wat die skoolhoof in Desember vanaf die departement ontvang het.
Nel het aan Rekord gemeld dat indien die departement die skoolhoof aankla in die toekoms, sal die SAOU hom verteenwoordig en verseker dat hy regverdig behandel word.
Volgens Nel sien Denysschen uit om sy leerders op die eerste skooldag van 2025 te verwelkom.
“Hy sien uit om die nuwe jaar met ’n positiewe gesindheid af te skop.”
Die skool het Denysschen amptelik op hul sosiale media-bladsye op die laaste skooldag verwelkom met die volgende boodskap: “Dit is vir Hoërskool Waterkloof ’n groot voorreg om aan te kondig dat Mnr. Denysschen, van vandag (13 Desember 2024) af, formeel terug in sy pos is. Ons is baie dankbaar en opgewonde om meneer terug te ontvang en sien uit na 2025”.
Denysschen beklemtoon in ’n meegaande video by die boodskap dat Vrydag, die dertiende, die dag wat hy “teruggeteken is”, nie meer ’n ongelukkige dag in die skool se geskiedenis sal wees nie, maar wel ’n dag om te vier.
Hy het ouers, leerders en personeel bedank wat hom bygestaan het tydens die tydperk wat hy nie as skoolhoof gedien het nie.
“Dit was drie maande van hartseer, pyn en verdriet maar die Hoërskool Waterkloof sal soos ’n feniks uit die as opstaan,” sê Denysschen in die video wat bykans 3 000 duimpies (“likes”) ontvang het en waarop honderde gebruikers kommentaar gelewer het.
Die kommentaar van Antoinette Bezuidenhout lui: “Mnr Denysschen, welkom terug! Al het ons nie meer ’n Klofie in die skool nie, is ons steeds Klofies in murg en been. Mag hierdie seer hoofstuk, die begin wees van groter impak, groter omgee, groot vergifnis, ’n groter baken in ons gemeenskap. Ons bou selfs na Klofies, steeds in geloof, en ons glo dat Klofies net kan sterker staan van hier af!”
Kommentaar is van die skool aangevra maar geen is ten tye van publikasie ontvang nie.
– Kliek hier om die video te sien waarin Denysschen sy terugkeer aankondig:
LEES OOK: Clean water on the horizon for Hammanskraal
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!