Moderne Vyfkamp is ’n Olimpiese sport, wat tans bestaan uit skerm (moderne swaardgevegte), landloop, swem, laserpistool skiet en perdespring.
Tydens die Internasionale Moderne Vyfkamp Vereniging (UIPM) se jaarlikse kampioenskap word sommige van die items ook afsonderlik of gesamentlik as sub-sporte beoefen.
Lazer-Run word afsonderlik beoefen as sportsoort waar deelnemers sekere afstande hardloop en tussendeur na teikens skiet met ’n laserpistool. In Tweekamp (Biathle) kompeteer atlete weer in hardloop en swem, terwyl Driekamp (Triathle) weer die laserpistool skiet gedeelte voeg by die hardloop en swem items.
Die 50-jarige Corné Lotz van Pretoria, wat sedert 2017 aan al drie bogenoemde sub-sporte deelneem, het onlangs geskiedenis gemaak toe hy as meesters-atleet (50 en ouer) by die Internasionale Moderne Vyfkamp Vereniging (UIPM) se Vyfkamp- en Lazer Run kampioenskap in China vir die eindrondte gekwalifiseer het in die afdeling vir senior atlete (20 tot 49).
Lotz het vroeër aan die nasionale kampioenskap deelgeneem saam met ’n jonger vriend, wat as senior atleet kwalifiseer. Om die Protea-span vir die Lazer Run wêreldkampioenskap in China as senior atleet te haal, moes hy die item in minder as 12 minute en 10 sekondes suksesvol voltooi. Dit het beteken dat hy die vyf wedlope van 600m elk in niks meer as twee minute moes kafdraf, terwyl hy tussendeur viermaal moes aantree om op ’n afstand van 10 meter die teiken ten minste vyf keer met die laserpistool te tref. Dít moes dus elke keer in minder as 30 sekondes gedoen word.
Vir Lotz, wat as meesters atleet gewoond is aan slegs drie 600m wedlope en twee skietsessies, was dit ’n reuse uitdaging, maar hy het geslaag en is saam met die Protea span na China, waar sy vermoëns verder getoets toe die halfeindrondte en eindrondte slegs drie ure uit mekaar op dieselfde dag plaasgevind het.
Hy het egter vir die eindrondte gekwalifiseer en kon uiteindelik in die 21ste plek eindig saam met manne waarvan sommige minder as die helfte sy ouderdom is.
Later tydens die kampioenskap het Lotz ook saam met Jené Banfield, sy spanmaat in die gemengde aflos item in die afdeling vir meesters (50+) deelgeneem en hulle het die goue medalje verower, wat hulle die amptelike wêreldkampioene in hierdie item maak.
– Dit was egter nie die einde van Lotz se prestasies vanjaar nie. Trouens, die beste sou nog kom toe hy onlangs weer die nasionale span gehaal het vir die Twee- en Driekamp wêreldkampioenskappe in Egipte.
By hierdie kampioenskappe het Lotz seker gemaak dat die wêreld van hom kennis neem, toe hy basies skoonskip gemaak het as meesters atleet en met ses goue medaljes huistoe kon kom.
Lotz het beide die Tweekamp en Driekamp items in sy ouderdomsgroep gewen, terwyl sy spanmaats se goeie vertonings aan hom twee verdere goue medaljes besorg het in die span-kategorie. Sy spanmaats Wouter Hillebrand en Rupert Groenewald onderskeidelik die tweede en vierde plekke behaal.
In die Driekamp het die drie Suid-Afrikaners al drie die podium plekke beset met goud (Lotz), silwer (Hillebrand) en brons (Groenewald), wat ook vir ’n goue medalje in die span-kategoerie gesorg het.
Saam met Jené Banfield het Lotz boonop ook in albei items die gemengde aflos gewen, wat sy versameling van ses goue medaljes in Egipte afgerond het.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to [email protected] or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram