Die metro beplan om die opdatering van voorafbetaalde meter sagteware voor die sperdatum te voltooi.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo sê die stad het tot 24 November om die projek vir alle kliënte te voltooi.
Uit die voorafbetaalde metertal van 349 801, is 223 609 teen 25 Oktober opgegradeer.
Dit is in skerp kontras met Kaapstad se inwoners.
“Dié stad se voorafbetaalde elektrisiteitsmeteropgraderings is ver voor die sperdatum voltooi. Die stad het die opgraderingsproses oor die afgelope drie jaar bestuur waar kliënte hul bewysopdateringskodes ontvang het en die eenmalige kodes by hul aankope ingevoeg het,” sê die mediakantoor van die Kaapse metro.
Tshwane-kliënte sal egter geaffekteer word indien die sagteware-opgradering nie teen die sperdatum voltooi is nie.
Mashigo sê meters wat nie aan die vereistes voldoen nie sal na vandeesmaand nie elektrisiteit kan laai nie.
“Kliënte sal verontrief word namate hul elektrisiteit opraak. Die stad doen ’n beroep of alle inwoners om die oorblewende tyd vandeesmaand te gebruik om seker te maak dat hul voorafbetaalde meters aan die vereistes voldoen en opgegradeer is,” waarsku Mashigo.
Die opgraderingsopdrag is in September 2021 van stapel gestuur.
Die stad het op 15 Mei begin met die opgradering van die bewys- en aankoopsisteem.
“Daar was niks wat hierdie taak vir die metro gekompliseer het nie aangesien alle meterlêers na STS2 en KRN 2 verskuif is. Wat nog uitstaande is, is vir kliënte om voorafbetaalde elektrisiteit te koop wat bevestig dat hul nie spookverkopers is nie. Dit is hoekom dit belangrik is om ’n minimum R10-bewys te koop om hul aankoopstatus te bevestig,” sê Mashigo.
Hy sê daar is rugsteunhulp vir kliënte wat sukkel om die opgraderings te voltooi.
“Die stad het ’n plan in plek gestel om streke te help om aan die opgradering vandeesmaand te voldoen. Indien daar probleme is, moet die kliënt ’n klagte registreer en ’n verwysingsnommer verkry sodat ’n tegnikus die meter kan vervang,” sê Mashigo.
Hy voeg by dat die metro derdeparty-metermaatskappye aangestel het wat om hul onthalwe elektrisiteit aan verbruikers soos komplekse verkoop om skriftelik te bevestig dat hul kliënte aan die vereistes voldoen.
“Daar is dele van die stad wat deur Eskom voorsien word en die kragnutsmaatskappy hou toesig oor die opgradering van hierdie dele.”
Hy sê verbruikers moet egter onderskeid tref tussen die opgraderings- en die metervervangingsprogram.
“Die sagteware-opgradering is onderneem deur nutsondernemings soos die metro, Eskom en herverkopers. Die metervervangingsprogram is deur dieselfde nutsondernemings onderneem vir enige meter wat nie reageer nie en as deel van inkomste beskermingsprojekte.”
Hy sê verbruikers sal drie stelle kodes ontvang wanneer hulle weer elektrisiteit koop.
“Die eerste twee is vir die opgradering en die derde is jou maandelikse elektrisiteitkrediet. Jy moet eers twee opgraderingskodes op jou meter intik en dan jou maandelikse elektrisiteitskredietkode,” sê Mashigo.
Nadat die opgraderingskodes suksesvol gelaai is, mag die kredietbewys gelaai word.
Indien beide stelle sleutelveranderingsbewyse aanvaar word, dan is jou meter opgegradeer.
Mashigo sê verbruikers moet seker maak dat alle kredietbewyse wat reeds gekoop is maar nog nie op die meter ingetik is nie gelaai moet word voordat die meter opgegradeer word, aangesien die meter nie die ou bewyse sal aanvaar nadat dit opgegradeer is nie:
Stap 1: Tik die eerste 20-syferkode (Sleutelverandering 1) in en wag dat dit aanvaar word.
Stap 2: Doen dieselfde met die tweede 20-syferkode (Sleutelverandering 2). As jou meter beide aanvaar, dan is jou meter suksesvol opgegradeer.
Stap 3: Tik die derde 20-syferbewys (elektrisiteitskredietbewys) in. As dit aanvaar word, is dit bevestiging dat jou voorafbetaalde meter na STS-2 opgegradeer is.
Om seker te maak dat jou meter opgegradeer is, tik die kode 1844 6744 0738 4377 2416 in op jou voorafbetaalde meter se sleutelbord.
Die skerm sal of die syfer 1 of 2 vertoon en, in sekere gevalle, mag daar ook alfabetiese letters langs die KRN nommer verskyn.
Wat die syfers beteken:
1 – Jou meter is nog op KRN1 en moet na KRN2 herkodeer/opgegradeer word.
2 – Jou meter is na KRN2 herkodeer/opgegradeer.
Jou kredietbewysstrokie sal ook KRN2 reflekteer wanneer jy elektrisiteit koop.
Indien daar enige probleme met jou voorafbetaalde meter is, kan jy die Tshwane sentrum skakel by 012 358 9999 of die tolvrye nommer by 080 1111 556.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!