South Africa

Polisie ondersoek dodelike skietvoorval in Mountain View

Die omstandighede wat daartoe gelei het dat twee mense by ‘n besigheidsperseel in Mountainview geskiet is word ondersoek.

Volgens luitenant-kolonel Mavela Masondo het dié 60-jarige verdagte by die winkel aangekom en twee mans, Jannie Venter en Janneman Vermaak geskiet.

“Een slagoffer, wat na bewering die winkeleienaar en swaer van die verdagte is, is noodlottig geskiet, terwyl die ander slagoffer in ‘n ernstige toestand na die hospitaal geneem is.”

Masondo sê dié verdagte is in hegtenis geneem en aangekla van moord en poging tot moord.

Venter wat Dinsdag op die toneel dood verklaar is, was nie net ‘n geliefde oupa, pa en man nie maar ook die voormalige president van die Sam Original Mcc motorfietsklub.

Vermaak, die huidige president van die klub, is ernstig gewond en in ’n kritieke toestand per helikopter na die hospitaal vervoer. Vermaak, pa van twee en toegewyde man, veg steeds om sy lewe op Woensdag.

Xander Loubser, woordvoerder van Best Care Ambulans Dienste, het vroeër gesê die skietvoorval het net na 14:45 op Dinsdag plaasgevind.

“Met ons aankoms het ons noodspan die hartverskeurende verlies van een individu bevestig, terwyl ’n ander in ’n kritieke toestand aangetref is.”

Die verdagte het op die toneel gebly en is deur Brinant Security in hegtenis geneem. Loubser het hul vinnige en professionele optrede geloof.

“Hulle het verseker dat die situasie nie verder eskaleer nie en die veiligheid van almal op die toneel beskerm.”

Best Care Ambulans Dienste het saam met Netcare 911 hard gewerk om Vermaak te stabiliseer.

Hy is daarna per Netcare911-helikopter na ’n gespesialiseerde trauma-eenheid geneem.

“Ons innige meegevoel gaan uit aan die familie en vriende van die oorledene. Ons dra ook ons gebede oor aan Janneman Vermaak en sy geliefdes, met die hoop op ’n volledige en vinnige herstel,” het Loubser gesê.

Sedert die voorval het medelye van regoor die gemeenskap ingestroom. 

Die Sam Original Mcc Motorcycle motorfietsklub het Woensdag hul diep hartseer gedeel met ’n emosionele huldeblyk op hul Facebook-blad:

“Rus sag by Jesus se voete, ou prez Jannie. Jy het diep spore in ons harte getrap en los ons met ’n groot leemte. Maak nie saak hoe lank jy iemand geken het nie, jy het hulle gou deelgemaak van jou familie. As oupa, pappa, lewensmaat, broer en vriend gaan jou plekkie vir ewig leeg wees en ons gaan jou baie mis. Jy sal altyd in ons harte wees.”

* Neem asseblief kennis dat hierdie artikel gewysig is.

Lees ook: Geliefde oupa dood, motorfietsklub-president kritiek na skietery

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

About the author

eNews Nigeria

eNews Nigeria is your go-to source for the latest news, celebrity gossip, and trending stories. Our team works tirelessly to deliver reliable and engaging content that keeps our audience informed and entertained.