Organisasies en politieke partye voel positief oor die aankondiging rondom vennootskapsooreenkomste van die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, tydens die bekendmaking van haar 100-dae aksieplan om die metro uit sy benarde finansiële posisie te red.
Sy het op 25 Oktober reeds die besluit van die burgemeesterskomitee bekendgemaak om ’n omvattende hersiening van diensleweringsooreenkomste met nie-winsgewende organisasies, burgerlike organisasies en stadsverbeterings-distrikkomitees eersdaags af te skop.
As rede het Moya in hierdie verklaring te kenne gegee dat die metro se hersiening is om te verseker dat alle vennootkapsooreenkomste met die metro se belange stroomlyn en dat sulke dienste per die ooreenkomste aan alle inwoners verskaf word.
Sy het tydens die Aksieplan-mediavergadering op 30 Oktober bevestig dat benewens die herbeoordeling van huidige ooreenkomste, sal geleenthede ook ondersoek word om betrokke te raak met potensiële nuwe vennote wat kan bydra tot die verbetering van dienslewering.
“Hierdie proses sal in die gees uitgevoer word van samewerking en goeie trou, sonder ’n voorafbepaalde uitkoms. Ons doelwit is om konstruktief betrokke raak om te verseker dat ooreenkomste wedersyds voordelig is vir diensverskaffers en Tshwane-inwoners,” sê sy.
“Gegewe die finansiële beperkings wat die stad in die gesig staar, is derdeparty-betrokkenheid by dienslewering deurslaggewend vir ons sukses. Ons waardeer die bereidwilligheid van derde partye om die metro by te staan. Die welvaart van ons hoofstad hang af van sulke konstruktiewe vennootskappe met die privaatsektor en gemeenskapsorganisasies,” glo Moya.
Aanvanklik was daar verwarring oor die bedoeling van die metro se hersiening van die vennootskapooreenkomste.
Die rede hiervoor is dat die EFF, ’n senior vennoot in die regerende koalisie, aangedui het dat van hierdie ooreenkomste dalk beëindig sal word.
Die EFF se Tshwane-leier, Obakeng Ramabodu, is veral gekant teen enige vorm van samewerking met AfriForum.
Moya het egter met haar verklaring op 30 Oktober duidelik uitgewys dat sy met vennootskapsooreenkomste as ’n manier om die metro vorentoe te neem, wil voortgaan.
“Ons het reeds met hierdie verbintenisse begin, insluitend ’n onlangse vergadering met die Capital City Business Chamber om meer te wete te kom oor die Rosslyn-verbeteringsdistrik. Stadsverbeteringsdistrikte is noodsaaklik vir Tshwane se sukses en sulke vennootskappe laat toe dat die metro se beperkte hulpbronne vir dienslewering aangevul word,” verklaar Moya.
Sy het bygevoeg dat sulke samewerking op ’n deursigtige wyse gedoen sal word.
Burgerregte-organisasie AfriForum het aan Rekord bevestig hulle voel positief oor die burgemeester se verklaring op 30 Oktober.
Woordvoerder Llewellyn Hemmens sê hulle voel positief en hoopvol oor haar aankondiging.
“Vir ons is dit die verwesenliking van federalisme en ons is hoopvol vir gesprekke vorentoe om projekte uit te brei en ’n magmenigvervuldiger te wees vir die metro. Ons het honderde vrywilligers wat bystaan om die stad mooier en beter te maak,” verduidelik Hemmens.
Op antwoord oor die EFF se opmerkings dat veral AfriForum se ooreenkoms dalk beëindig kan word, het Hemmens uitgespel dat sy organisasie ongeag die uitslag van samesprekings sal voortgaan om projekte tot voordeel van die stad se inwoners aan te pak.
“Grondelose rassekritiek sal AfriForum nie ontspoor nie. Ons het nie die metro of enige politieke party se toestemming nodig om die gemeenskappe waarin ons woon te verbeter nie.
“AfriForum sal voortgaan om ons gemeenskappe te bou en hulle meer selfstandig te maak in die metro en elders in die land. As die metro nie ons gemeenskappe dien nie, neem ons self die verantwoordelikheid daarvoor – met of sonder die metro se ondersteuning,” hou hy vol.
“Vergeet van ras. Ons sny gras. En doen veel meer.”
Hy wys daarop dat sedert die ondertekening van die vennootskapsooreenkoms het AfriForum ten minste R1-miljoen aan gemeenskapsprojekte in die metro uitgegee.
Volgens hom is meer as 94 000 vierkante meter deur vrywilligers in die stadsgebied skoongemaak, meer as 78 000 vierkante meter gras is gesny en 18 ton vullis verwyder deur die organisasie se vullisverwyderingsprojek.
Hy verduidelik dat AfriForum samesprekings met die metro sal benader met die volgende uitgangspunte:
– AfriForum-gemeenskappe neem self verantwoordelikheid,
– misdaadbekamping bly ’n prioriteit,
– watervoorsiening is van kritieke belang,
– die vulliskrisis sal die organisasie nie oorweldig nie, en
– alhoewel samewerking ideaal is, het die organisasie nie toestemming nodig om gemeenskappe te verbeter nie.
DA-koukuswoordvoerder Kwena Moloto verwelkom dat die metro van voorneme is om voort te gaan met besprekings rondom gemeenskapsvennootskappe se ooreenkomste om hulle in staat stel om te help met die sny van munisipale gras, omheining van parke en bewaring van openbare ruimtes.
Hy wys daarop hierdie ooreenkomste is onder leiding van voormalige burgemeester Cilliers Brink gesluit en het ten doel om gemeenskappe aan te moedig om die metro te help om sy ontwikkelingsrol te vervul.
“Eers het Moya aangedui dat hierdie ooreenkomste hersien sal word. Dit blyk nou dat die koalisieregering ’n verandering van hart gehad het, wat welkom is,” meen Moloto.
“Die DA het nog altyd volgehou dat die regering nie gemeenskappe se helpende hand moet wegklap nie. Goed gestruktureerde en bestuurde gemeenskapsvennootskappe, soos dié wat onder leiding van Brink gesluit is, gee mense ’n gevoel van mede-verantwoordelikheid. Dit maak broodnodige hulpbronne vry tot voordeel van armer gemeenskappe.”
Rekord het die burgemeesterkantoor versoek om ’n lys van die name van 68 organisasies met gemeenskapvennootskappe met die metro te voorsien, maar die versoek is van die hand gewys.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!