South Africa

Meer as 10 000 optoggangers: “Bela is boos!”

Meer as 10 000 onderwysaktiviste en ondersteuners van burgerlike organisasies en politieke partye het om 5 November die kronkelende pad van 2.8km van die Voortrekkermonument na Vryheidspark-monument gestap om teen die Bela-wetgewing standpunt in te neem.

Meer as 10 000 protesgangers het die 2.8km van die Voortrekker- na die Vryheidsparkmonument aangepak.

Die groep het oumas en oupas, ouers, onderwysers, sowel as die koninklike familie van die Griekwas ingesluit.

By die Voortrekkermonument het verskeie politieke partye wat deel is van die Regering van Eenheid soos die Minister van Landbou, John Steenhuisen, en Minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, die skare op die trappe van die monument toegespreek.

Verteenwoordigers van hierdie groepe het ook die memorandum onderteken waarin besware en eise aangeteken is van meer as 40 organisasies wat teen die Bela-wetgewing se twee omstrede klousules gekant is.

Voor die verhoog het die skare hierdie besware kort en kragtig op plakkate vasgevat en met slagspreuke uitgeskree: “Bela is Boos!” en “Bela is belaglik”.

Die twee klousules waarrondom die protesoptog draai, is oor die verskraling van moedertaalonderwys en meer spesifiek Afrikaans, en die vermeerderde beheer en inmenging van regeringskant in die bestuur en beheerliggame van skole.

Die organiseerders van die protesoptog Solidariteit en AfriForum se bestuurshoofde het ook ’n spreukbeurt gekry.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit; Elijah Mhlanga van die Gautengse provinsiale regering; en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Solidariteit se dr. Dirk Hermann het gesê dat daar ’n rooi lyn tussen die verlede en die hede gespan is soos die lint wat vanoggend tussen die beeldegroep van ’n vrou en kinders by die monument en die skare gespan is.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders om nie toe te laat dat hul toekoms van hulle gesteel word nie. Soos met hierdie rooi lint, trek ons hierdie rooi lyn nou in die sand. Dit is ’n duidelike boodskap: los ons kinders en ons skole uit,” sê Hermann.

Hy is opgevolg deur die DA-minister van Landbou, John Steenhuisen.

“Ons is gekant teen die Bela-wetgewing as ’n party omdat die goedkeuring van klousules 4 en 5 te veel mag aan die staat gee in onderwys en te veel mag wegneem van gemeenskappe. Ons grondwet is duidelik. Elke persoon het die reg op onderwys in ’n amptelike taal en en hierdie reg kan nie net met ’n pen uitgevee word nie,” het Steenhuisen gesê.

Die omstrede sanger Steve Hofmeyr en Pieter Smith het die skare begelei deur FAK-liedjies te sing voordat die skare in die pad geval het na die Vryheidspark-monument. Verteenwoordigers van die regering, Gautengse Department van Onderwys en die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton Mckenzie het daar die ondertekende memorandum in ontvangs geneem.

McKenzie het die skare vermaak met ’n toespraak oor sy liefde vir Afrikaans en ’n kragwoord of twee gebruik om homself duideliker uit te druk.

In ’n meer ernstige luim het hy benadruk dat hy skram nie weg vir sy liefde vir Afrikaans nie. Hy het belowe hy sal saam met ander ministers van die Regering van Eenheid in die regeringsvergaderings rondom Bela-wetgewing sterk standpunt inneem oor wat protesgangers met hul teenwoordigheid te kenne gegee het: Moedertaalonderrig is ononderhandelbaar.

Verdere onderhandelings tussen verteenwoordigers van partye teenwoordig by die protes en die regering, sowel as deur die komitee afgevaardig deur President Cyril Ramaphosa om die klagtes en besware te oorweeg en aanbevelings te maak, sal die volgende twee weke plaasvind.

Gayton McKenzie, minister van Kuns, Sport en Kultuur, het by die Vryheidspark-monument die memorandum van partye se besware teen die Bela-wetgewing in ontvangs geneem.

Hierdie onderhandelings moet geskied voor die sperdatum waarop die ondertekening al dan nie van die wetgewing deur die president moet plaasvind.

“Ons bedank Vryheidspark se bestuur dat hulle toestemming verleen het dat die protes hier kan stop en die memorandum ontvang kan word. Almal het die reg om te protesteer en ek verseker u dat die Regering van Eenheid hierdie reg sowel as die reg om beswaar aan te teken teen die klousules sowel as die besware ernstig opneem. Ons hoor julle duidelike boodskap vandag en sal dit so deurgee,” het McKenzie afgerond.

– Kliek hier om videos oor die optog en ondertekening te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

About the author

eNews Nigeria

eNews Nigeria is your go-to source for the latest news, celebrity gossip, and trending stories. Our team works tirelessly to deliver reliable and engaging content that keeps our audience informed and entertained.