Die kultuurgemeenskap van Kleinfontein en die ANC adjunk-burgemeester, Eugene Modise, gaan eersdaags ontmoet om Kleinfontein se formaliseringsproses van die nedersetting in lyn met aanvaarde stadsbeplanningspraktyke en in oorleg met die gemeenskap se stadsbeplanners te bespoedig en af te handel.
Modise het aan Rekord bevestig dat hy ’n versoek van die Kleinfontein Aandeleblokskema ontvang het.
“Die volgende stap is om hulle te woord te staan,” sê Modise.
Die gebeure volg op ’n uitnodiging wat Modise tydens sy aanvaardingstoespraak aan die kultuurgemeenskap gerig het.
Die kultuurgemeenskap kan nou ook vorentoe beweeg nadat ’n hangende aansoek om verlof tot appél teen ’n hofuitspraak oor die Kleinfontein Aandeleblokskema afgehandel is.
Die aansoek om verlof tot appél van vier ontevrede inwoners teen ’n oorspronklike hofbevel is met koste van die hand gewys.
Hierdie inwoners het ’n aansoek gebring teen Kleinfontein en die metro. Hulle het twee dinge gevra: dat Kleinfontein nie verder ontwikkel nie en dat die metro teen die Aandeleblokskema optree.
Met die eerste hofsaak het die regter slegs die versoek rondom die optrede teen Kleinfontein deur die metro goedgekeur en bepaal dat elke party sy koste moet bepaal.
Hierteen het die vier ontevrede inwoners beswaar gemaak en verlof tot appél daarteen gevra.
Verlof tot appél is deur die hof op 25 September geweier en die ander partye betrokke moet Kleinfontein se regsonkoste betaal.
Op die agenda met die adjunk-burgemeester sal ’n hangende formaliseringsaansoek van Kleinfontein wees.
Die aansoek is na byna ’n dekade steeds nie formeel af- of goedgekeur nie.
Dannie de Beer, ’n Kleinfontein-woordvoerder, het aan Rekord gesê die gemeenskap is daartoe verbind om met die Tshwane metroraad saam te werk om die formele prosesse spoedig afgehandel te kry.
“Behalwe vir die regsprosesse en stadsbeplanningsprosesse wat nou hul gang moet gaan en voltooi moet word, is daar ook politieke prosesse aan die gang. Ons versoek is gerig om gestalte te gee aan vorige ooreenkomste wat reeds tussen Kleinfontein en die stad se administrasie bereik is,” verduidelik De Beer.
Hy sê Kleinfontein se bestuur het Modise se uitnodiging as baie positief ervaar.
“Dit strook met die destydse onderneming van die nou minister van energie, Kgosientsho Ramakgopa, wat onderneem het om ’n taakspan daar te stel in 2013 en die formalisering van Kleinfontein te prioritiseer,” verduidelik De Beer.
Hy wys daarop dat die bestuur van deskundiges en ’n nuwe regspan gebruik maak om ook in onderhandelinge met die metro ’n haalbare kort- tot mediumtermyn aksieplan saam te stel.
“Ramokgopa se destydse aanbevelings van ’n bespoedigde proses en ook taakspan is een van ons eerste doelwitte,” verduidelik De Beer.
Die Tshwane metroraad het na aanleiding van die oorspronklike hofgeding, verhoogde en addisionele heffings geplaas op van die munisipale rekeninge wat aan Kleinfontein gelewer word.
De Beer bevestig dat daar nie ’n verhoging in kragheffing was nie, maar wel ’n verhoging in eiendomsbelasting van meer as ’n duisend persent.
“Daar is geen agterstallige skuld aan die metro nie. Ons het al die jare ons plaasbelasting konsekwent betaal,” bevestig hy.
Volgens hom word daar al ’n geruime tyd geen nuwe uitbreidings aan Kleinfontein bemark of beplan nie.
Oor die watersekuriteit wat tans orals in Tshwane ’n oorweging is, sê De Beer, is Kleinfontein al vir 34 jare ten volle selfvoorsienend met ’n fontein en verskeie boorgate.
Rekord het die woordvoerder van die ontevrede inwoners vir kommentaar genader, maar boodskappe het onbeantwoord gebly.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!