South Africa

Ooste kry sy eie Pretoria-ssic Park

Pretpark-entrepreneur en sakevrou, Renske Hayes, het lank die droom gekoester om haar voorliefde vir dinosourusse op ’n praktiese en sigbare manier met ander te deel.

Die droom het begin vorm kry toe sy uiteindelik die kans kry om in ’n area so groot soos ’n halwe rugbyveld langs ’n terrein met karnavalritte oorkant The Grove-winkelsentrum ’n boma in te rig.

Jaydon, Troy and Sune Fulton Photo: Elize Parker

Al wat kortgekom het, was die lewensgetroue namaaksels en beelde van die groot diere wat so dikwels mense se verbeelding aangryp en ook in Hayes en haar drie kinders se harte ’n tuiste gevind het.

“Ek wou ook graag die waarheid oor dinosourusse na mense toe bring en nie van die mites en onwaarhede wat mens soms in films oor hulle sien nie,” vertel sy.

Hayes het na haar eie aansienlike navorsing oor die reusediere van ’n prehistoriese era na ’n voorste fabriek in China gereis waar namaaksels van dinousourusse lewensgetrou gemaak word.

Hier sou sy vind die ou grotes word deur vakmanne vervaardig wat gesteld is op detail.

Renske Hayes Foto: Elize Parker.

Hulle werk noukeurig soos om te sorg dat die plooie om ’n spesifieke ou grote se nek die regte diepte is.

Hayes het gevind dat, omdat China een van die lande ter wêreld is waar van die meeste fossiele van dinosourusse al gevind is, die vakmanne streng volgens opgetekende voorskrifte werk.

Eers word ’n staalraam so groot soos die dier volgens sy vorm gesweis. Hiervoor word tekeninge en illustrasies van navorsers gebruik. Hierdie raam word met verskillende diktes spons toegepak wat volgens die oorspronklike vorm die dier naboots.

So kan byvoorbeeld ’n lang, dun nek gebeeldhou word met gesnyde spons en dan met dik plastiese hars geverf word sodat die vorm perfek is. Dan spring die verwers in en die finale kerfwerk word gedoen.

“Die kepies in die vel word met die hand aangebring. Die detail is ongelooflik,” sê Hayes.

Dit het haar wel verbaas toe daar ’n dinosourus met ’n effe pienk kleur tussen die besending beelde was wat in Pretoria aangekom het.

“Ek kon my nie voorstel daar was so ’n perspienk kleur dinosourus was destyds nie.” Sy is deur die fabriek se navorsers verseker die spesifieke Brontosaurus se fossiel het op ’n perspienk pigment in die vel gedui.

“Nou wie is ek om te stry?” lag Hayes.

Die dinosourusse is in skeepshouers verpak en na Suid-Afrika verskeep. ’n Houer of twee moet nog aankom en hierdie dinosourusse se staanplekke in die dinosouruskoninkryk word gereserveer met bordjies wat lees: “Moet nog uitgebroei word”.

Brendina Malatgi en Samkelisiwe Mtsweni van Centurion Foto: Elize Parker

Hayes wou eers die dinosourus-boma in die Cradle of Humankind-area naby Krugersdorp aanbring, maar kon nie daarvoor toestemming kry nie.

Sy het ’n gesonde sin vir humor oor dinosourusse en deel haar versameling dinosourusgrappies op kennisgewingborde waar die ou grotes staangemaak is.

Inligtingsborde gee ook volledige inligting oor elke dinosourusspesie teenwoordig in die park.

Toe dit kom by die diep brulgeluide wat die diere maak, het die fabriek in China weer eens lewensgetroue tegnologie ingespan en die namaaksels van die dinosourusse toegerus met bewegingsensitiewe sensors. Dus wanneer jy verby ’n beeld beweeg, trek die reusedier los met ’n brul soos van ouds.

“Ek kan nie wag om die paar wat nog opgesit moet word van die skip op pad van China, te ontvang en vir die dinosourusliefhebbers van Pretoria te wys nie,” sê sy opgewonde.

Vir meer inligting oor Dino Kingdom gaan na www.dinokingdom.co.za.

Toegangsfooie is R250 per persoon vir beide volwassenes en kinders. Die park is op Vrydae, Saterdae en Sondae oop.

– Kliek hier om videos van die dinosourusse in aksie te sien. Sit gerus die klank aan.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.