South Africa

Moot se hondefluisteraar groet na bykans ‘n halfeeu

Pretoria se eie hondefluisteraar, Wilma Coetzee van die Brigadoon-hondeskool, tree uit haar pos as bestuurder en hoof-afrigter by die skool na 47 jaar.

Wilma en haar wederhelfte, wyle Wickus, het 50 jaar gelede besluit om as diereliefhebbers geld in te samel vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Pretoria en toe bewus geword van die nood om honde af te rig in Waverley.

Die besluit is geneem om hierdie nood aan te spreek en juis so geld in te samel vir die dierewelsyn.

Met hul eerste klubbyeenkoms was daar reeds 60 ywerige honde-eienaars wat leiding gesoek het in ’n park in die Moot.

“Aan die einde van die eerste jaar het ons die destydse koninklike bedrag van R14 000 aan die DBV oorhandig. Twee jaar later het ons na Hoërskool Oos-Moot se sportvelde verhuis en daarna na Rietondale Park. ’n Paar weke gelede het ons na Moot Lockhouse Park geskuif,” vertel Coetzee.

Beide die Coetzees het ’n liefde vir Duitse herdershonde en het besluit om weg te spring met afrigtingsbedrywighede met hul geliefkoosde honderas.

“Ons was twee mense en twee baie spesiale honde, Don Oliver en Purdy van Brigadoon, met ’n brandende idealisme om diere in nood te help,” dink Coetzee terug.

Zulu, die Africanis-hond van John Deppe, wat ewe spoggerig aangewys is as die ambassadeur vir ‘n antihondsdolheidveldtog vir Afrika en trotse leerling van die Brigadoon-hondeskool in die Moot. Foto: Elize Parker

Haar mees onlangse Duitse herdershond, Yentl, is twee jaar gelede oorlede.

Vir haar is die ras ideaal as ’n metgesel en oppasser. “Dit is leerbare honde met ’n spesifieke persoonlikheid wat graag uitreik na ander,” glo sy.

Aangesien sy geweet het verhuising is dalk op haar pad weens die ouderdom, en ook begin om gesondheidsprobleme te ervaar, het sy nie weer ’n hond aangeskaf nie. Sy verhuis juis vanjaar na Bettysbaai om nader aan haar uitgebreide gesin te wees.

Vir haar is dit ’n riem onder die hart dat die oorspronklike doel van die klub oor die jare in die oog gehou kon word.

Die hondeskool borg ’n inspekteur van die Veedierewelsynsvereniging, en gee skenkings aan Gidshonde vir Blindes om van hul klein hondjies vir blindes op te lei.

Kuier jy saam met die klublede en hul viervoetiges, hoor jy gou tot watter mate hierdie invloedryke sielkundige en kunstenaar ook ’n rol in hul lewens speel.

Hierdie is eintlik nie ’n klub nie, maar ’n groot familie. En Coetzee word ook sommer as “ma” of “ouma” aangespreek.

Marisha Marais van Pretoria-oos vertel hoe Coetzee haar gehelp het om haar hond, Mila, se immuunsiektes aan te spreek.
“Sy het my ook sommer gehelp met my eie emosionele en fisiese probleme. Ek dink haar resep is geduld, met mense en met honde. Ek het by haar geleer dat geduld maak jou kalm.”

Die gevoel is gemeenskaplik. “Vir my het klublede en hul gesinne familie geword. Ek kan hulle nooit genoeg bedank vir hul liefde en besondere bydraes waarsonder die skool nie kon voortbestaan nie,” vertel Coetzee.

As gekwalifiseerde sielkundiges het Wilma en haar man, die voormalige hoofsielkundige van Weskoppies Psigiatriese Hospitaal, saam aan ’n nuwe vorm van psigoterapie Menslike Modellering gewerk.

Dit is mettertyd deur kundiges en hul portuurgroep by die Universiteit van Leiden as geregistreerde selfstandige behandelingsmetode aanvaar en gebruik.

Daarvolgens word ’n pasiënt met sielkundige probleme versoek om ’n persoon te maak, dit wil sê ’n fiktiewe karakter, en met menslike, lewensgetroue eienskappe toe te rus. In die voltooiing van hierdie taak word die persoon gevra om ’n lewensverhaal wat eindig in die hede, oor die fiktiewe persoon te skryf of te vertel en ’n model van die fiktiewe persoon te maak uit kunsmateriaal.

Volgens Coetzee laat die terapie verskeie geleenthede vir die psigoterapeut om die kliënt te beïnvloed soos by wyse van rolspel, begeleide beelde en die rol van die gemodelleerde persoon aan te neem.

“Ons het saam op die gedagtes hierrondom gekom nadat my man gesien het hoe ek portrette van mense skilder en teken,” vertel sy.

Deur mense te kan “lees”, het sy ook geleer om honde en hul gewoontes, giere en geite te vertolk.

Wanneer sy wenke aan honde-eienaars gee, is die eerste altyd haar goue reël: “Jy slaan nie aan ’n hond nie. Jy leer hom”.

Marianne Archer en Wilma Coetzee met een van die die Brigadoon-hondeklub se eienaars, John Deppe, se spoggerige nuwe ambassadeur vir ‘n anti-hondsdolheidveldtog vir Afrika, Zulu. Foto: Elize Parker

Sy glo dat jy respek aan ’n hond moet betoon en met hom soos met ’n mens moet gesels.

“Honde verstaan nie jou woorde nie, maar wel jou stemtoon en lyftaal,” verduidelik Coetzee.

Sy lag as sy verduidelik twee van die gewaarwordinge wat sy na jare van waarneming by die hondeskool gemaak het, is dat honde neem die persoonlikheid van hul eienaars aan en dat hondeliefhebbers ’n hond volgens hul persoonlikheid kies.

Sy het oor die bykans halwe eeu ook talle ander honde-afrigters bemagtig om by die skool op verskillende vlakke soos met klein hondjies tot gevorderde opleiding van volwasse honde leiding te neem.

’n Lid van die klub, John Deppe van Irene, sal die leisels by haar oorneem. Deppe is aan talle klublede bekend vir sy liefde vir veral Africanis-honde en is dikwels te sien by klubbyeenkomste Saterdae-oggende by die Lockhouse-park in Codoniastraat saam met sy Africanis-hond, Zulu.

Coetzee is ook trots op die Africanis-hond, Zulu, met sy kalm persoonlikheid en sy sonderlinge prestasie om onlangs aangewys te word as die hond wat ’n anti-hondsdolheidveldtog in Afrika se ambassadeur en “gesig” gaan wees.

Zulu, iis as die ambassadeur vir ‘n antihondsdolheidveldtog vir Afrika aangewys. Foto: Elize Parker

Op 28 September het Coetzee vir oulaas ’n draai by die klub se byeenkoms gemaak en die bedrywighede vanaf haar loopraamstoel beskou.

Soos telkens deur die jare het sy die klublede vir hul klubtoewyding en werk met hul honde bewonder, maar ook hard-op gewonder: “Hierdie mense lewer hul dienste uit liefde en vir liefdadigheid en doen wonderlike werk. Ook die honde is altyd bly om op ’n Saterdag hier te wees. Ek dink hulle oorreed eintlik hul eienaars om te kom. Ek wonder nou wie neem nou eintlik vir wie skool toe?”

– Kliek hier om ’n paar minute by die Brigadoon-hondeskool te kuier.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

You can read the full story on our App. Download it here.