Die vier kandidate vir die Noordvaal Cup (Beker afdeling) se halfeindwedstryde is bepaal. Al wat in eerskomende naweek se laaste rondte ligawedstryde bepaal moet word, is die volgorde waarin dié top-vier gaan eindig en hoe die halfeindstryd bepalings dus gaan lyk.
Hoërskool Garsfontein (33 ligapunte) het met hul reuse oorwinning van 54-40 oor Helpmekaar Kollege (25 ligapunte) gesorg dat dié kandidaat uit Johannesburg effektief uitgeskakel word. Helpies het hul ligabepalings Saterdag teen die Garsie Bere afgehandel en hulle kan dus nie meer beter vaar as hul huidige vyfde plek op die punteleer nie.
Ook Hoërskool Menlopark (14 ligapunte) se verrassende sege van 26-19 oor Hoërskool Noordheuwel (20 ligapunte) het die Wes-Randers se kanse om te kwalifiseer óók bederf. Noordheuwel, wat na dese sesde op die punteleer lê, kan teoreties nog met Helpies plekke ruil, maar dan sal hulle eerskomene naweek in hul laaste ligabepaling byna ’n honderdtal teen Hoërskool Nelpruit (19 ligapunte) in ’n weg-wedstryd moet aanteken. Hulle is egter uit die wedloop na die halfeindrondte.
Noordheuwel sal dus waarskynlik sesde eindig, tensy Nelspruit hulle kan klop. Dan kan Nelspruit sesde eindig, terwyl Noordheuwel sewende sal klaarmaak.
Menlopark kan nog een plek opskuif en met Hoërskool Rustenburg (16 ligapunte) plekke ruil as hulle die Rusties eerskomende Saterdag op hul tuisveld in Noordwes kan klop.
Hoërskool Marais Viljoen (7 ligapunte) sal ongelukkig met die houtlepel tevrede moet wees, nadat hulle ook die afgelope naweek hul verpligtinge afgehandel het toe hulle met 47-14 deur Hoërskool Waterkloof (34 ligapunte) op hul tuisveld in Alberton afgeslag is.
Op hierdie stadium lyk dit na ’n feit dat Hoërskool Monument (27 ligapunte) vierde sal eindig, ongeag wat eerskomende naweek in hul tweestryd met Waterkloof in Pretoria gaan gebeur. Monnas is ses punte agter Garsies en kan dus nie beter as vierde doen nie.
Vir die Klofies is daar egter baie op die spel. Hulle is tans tweede op die punteleer, wat aan hulle ’n tuis halfeindstryd sal besorg. Die Garsies, wat slegs een punt agter hulle op die punteleer lê, kan egter met Klofies plekke ruil as laasgenoemde teen Monnas verloor en die Garsie Bere kan op hul tuisveld in Pretoria met Hoërskool Dr. EG Jansen (38 ligapunte) afreken.
Waterkloof sal dus met niks minder as ’n bonuspunt oorwinning teen Monnas tevrede wees nie.
EG Jansen speel natuurlik ook vir ’n tuis halfeind, terwyl hulle boonop die kans staan om die ligafase onoorwonne af te sluit indien hulle die Garsies kan klop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.