South Africa

Johnny Reitz Big-5 stoeitoernooi lok byna 700 stoeiers

Terwyl Suid-Afrika deur slegs een stoeier by vanjaar se Olimpiese Spele verteenwoordig is, het die Johnny Reitz Big-5 amateur stoeitoernooi in Pretoria egter gewys dat daar hoop is vir dié gewilde sportsoort en dat amateurstoei in die land kerngesond is.

Sover bekend is dié toenooi, wat jaarliks deur die Noord-Gauteng Stoeivereniging aangebied word, steeds die grootste ope amateurstoei toernooi in Suid-Afrika. Daar word stoeiegevegte in beide internasionale style (Grieks-Romeins en Vrystyl) aangebied, terwyl die hoeveelheid meisies wat jaarliks betrokke is by die toernooi opmerklik meer word.

Die ouderdomme van deelnemers wissel van die jong beginners van sowat ses jaar oud tot by die veterane (meesters), wat ook hul kans kry tydens die aksie.

Winston Meyer, President  van die Tshwane Sports Konfederasie was betrokke by die amptelike opening van die toernooi.

Altesaam 60 stoeiklubs het 688 stoeiers vir hierdie reuse toernooi ingeskryf. Die klubs het vanoor die lengte en breedte van die land na Pretoria gereis om aan die aksie in die Rembrandt-saal op die Tuks Sportkampus deel te neem.

Klubs uit agt van die nege Suid-Afrikaanse provinsies was teenwoordig en dit is vanselfsprekend ’n reuse logistieke nagmerrie om so ’n groot toernooi aan te bied. Die Noord-Gauteng Stoeivereniging het dit egter weer reggekry om sake vlot te laat verloop met die aksie wat vroegoggend begin het en eers teen laatmiddag afgehandel is.

Agt stoeiematte is in die Rebrandt-saal uitgelê en dit was oudergewoonte ’n miernes van bedrywighede met stoeiers op die matte in aksie, terwyl hulle ondersteun word deur klubmaats en familie op die vloer en in die pavlijoen van dié impossante saal.

Intussen moes die hardwerkende beamptes, tellinghouers en skeidsregters bontstaan om die program vlot te laat veroop.

Die toernooi het ook weer ’n internasionale karakter gekry met verskeie klubs uit Namibië, asook die Egypt Post stoeiklub uit Egipte, wat ’n span gestuur het om te kompeteer teen hul Suid-Afrikaanse eweknieë.

Een van die unieke aspekte van hierdie toernooi is dat, soos die naam aandui, dit simbolies gekoppel is aan die Groot Vyf uit die Suid-Afrikaanse drierryk. Elke jaar word een van hierdie Groot Vyf diere op die medaljes afgedruk. Vanjaar het die Luiperd aan die beurt gekom.

Uiteraard is dit elke stoeier se droom om ’n volle versameling van hierdie medaljes in sy vertoonkas te kan hê.

Vanjaar was daar inderdaad een van die plaaslike stoeiers wat hierdie besondere prestasie kon behaal. Janco Bezuidenhout van die Centurion Stoeigimnasium is ’n voorbeeld van ’n stoeier wat onder Rekord se aandag gekom het, nadat hy Saterdag sy versameling goue medaljes kon voltooi. Met die verwerwing van ’n goue medalje tydens Saterdag se toernooi het hy daarin geslaag om ’n volledige stel (goud) met al vyf die diere se afbeeldings tot sy versameling stoeimedaljes te voeg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.