South Africa

Medici vier Verpleegtersdag met toekennings

Carina Grobler van Centurion is al 28 jaar lank ’n verpleegster, maar hierdie beskeie teatersuster glo die eer van ’n benoeming vir ’n internasionale toekenning kom haar nie alleen toe nie.

“Teaterwerk is altyd ’n spanpoging. Om pasiënte vooraf voor te berei en in die teateromgewing veilig en kalm te voel, is deel van my daaglikse werk. My uitgangspunt is om nie hoop weg te vat nie, maar om hoop te gee,” glo sy.

Grobler is saam met drie ander verpleegsters van die MediClinic Kloof benoem vir die internasionale Daisy-toekenning vir Uitsonderlike Verpleegsters wat buitengewone deernis aan pasiënte en hul gesinne bewys.

Die toekennings is op 10 Mei in vieringe vir Internasionale Verpleegstersdag (12 Mei) aan die verpleegsters oorhandig tydens ’n dag lange uitstalling waar verpleegsters self vir toetse, masserings en bloedtoetse kon gaan en ook bloed skenk.

Ander uitstallers soos makelaars en welsynsinstellings het ook die dag opgevrolik.

Een van die uitstallers, Marie Reyneke van Jakaranda Kinderhuis en Louis Botha Kinderhuis

Die ander ontvangers is: Evodia Mokoena, Nelly Moabi en Liketso Ndlondlo.

Die toekenning is in die lewe geroep deur die gesin van Pat Barnes, ’n outo-imuunsiektelyer. Die gesin se dankbaarheid vir die sorg en veral deernis van die verpleegsters wat hul seun versorg het, word vergestalt in die toekennings.

Grobler is deur dr. Ernst van Graan benoem om die toekenning te ontvang.

Toekenningsnominasies kan deur kollegas, dokters, hospitaalpersoneel en pasiënte sowel as hul familielede gemaak word.

Diegene wat ’n nominasie ontvang, word met ’n spesiale serpentynsteenbeeld, getiteld “The Healer’s Touch” en ’n sertifikaat deur The Daisy Foundation vir hul harde werk beloon.

Carina Grobler van Centurion

Grobler glo sy moet pasiënte behandel asof hulle haar eie familie is.

“Mens weet nooit wanneer jou eie familielede in die hospitaal kan beland nie en dan sal jy graag wil hê hulle moet as ’n gesinslid deur ander behandel word,” verduidelik sy.

Sy is getroud met Rainier en het twee dogters, Genevieve (18) en Angelique (23).

Nadat sy ’n vier-jaar verpleegsterdiploma aan die Anne Latzky-verpleegsterskollege in Johannesburg verwerf het, het sy haar loopbaan in 1998 by die J.G. Strijdom-hospital in Pretoria begin.

Sy was ook in Pretoria verbonde aan ’n hart- sowel as ’n onkologie-eenheid en het 12 jaar teaterervaring. Sy is nou reeds meer as nege jaar verbonde aan die MediClinic Kloof.

Grobler vertel haar dag begin skuins na 06:00 wanneer sy die dag se teaterlys bestudeer en die logistieke in plek kry om pasiënte, personeel en medici in die teateromgewing te ontvang.

Sy werk primêr met pasiënte wat vir neus-, oor- en keelchirurgie opgeneem is, maar werk ook gereeld saam met neurochirurge wanneer ruggraatgevalle op die teaterlys is.

Sy het in verpleging as ’n loopbaan begin belangstel toe haar ma, Tokkie Coetzee, haar tydens haar matriekjaar vir ’n week vir ’n kort studentekursus by die Hendrik Verwoerd-hospitaal ingeskryf het.

Venetia Saunders en Baretse Aphane

Grobler se uitlaatklep vir stresvolle werksdae is om saans tuis te kom en te weet haar kinders en familie is gesond.

“As ek uitstap saans by die hospitaal, sê ek vir myself dit was ’n goeie dag al het daar dalk iets minder goed gebeur,” verduidelik Grobler haar filosofie.

As ’n jong student-verpleegster het sy vroeg in haar loopbaan met kankerlyers gewerk.

“Dit was ’n moeilike begin vir my om as ’n jong verpleegster pasiënte voor te berei op wat hul langtermyn kon verwag,” dink sy terug. “Dit het aan my siel gevat.”

Vir Grobler het haar loopbaan ’n nuwe, ander betekenis gekry toe sy nie meer saalwerk gedoen het nie, maar deur haar verbintenis met ’n harteenheid vir die eerste keer op ’n meer permanente basis by operasieteaterspanne ingeval het.

“Elke dag in die teater is anders en hierdie aspek gee verdieping aan mens se werk,” meen Grobler.

Sy is opgewonde oor die veranderinge die afgelope 28 jaar in die mediese wêreld en moontlike verdere veranderinge.

“Verbeterende tegnologie maak soveel nuwe behandelings-opsies oop en dis goeie nuus vir medici, verpleegsters en pasiënte,” sê Grobler.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.