South Africa

BMW-bestuurder betrokke in botsing met adjunk-skoolhoof en dogter sterf in hospitaal

Die bestuurder van die BMW wat in die botsing waarin ’n adjunk-skoolhoof en sy dogter op 3 Mei in Sunnyside in Pretoria gesterf het betrokke was, is op 12 Mei in ’n hospitaal in Pretoria oorlede waar hy onder polisiebewaking was.

Volgens polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Mavela Masondo, is Jabulani Mavhugu Khangala (40) voor sy afsterwe van strafbare manslag aangekla.

Die botsing tussen Khangala se BMW en Badenhorst se Peugeot het vroegoggend in Sunnyside plaasgevind nadat Badenhorst vanaf Tuine op pad was om sy dogter as gevolg van buikpyn na die hospitaal in Nieuw Muckleneuk te neem.

Die polisie het kort voor die ongeluk die BMW agternagesit omdat die bestuurder verdag opgetree het, sê Masondo.

’n Kransleggingsdiens is Maandag, 6 Mei vir Louwrense Badenhorst (53) en Michelle (22) by die Laerskool Tuinrand se sportvelde gehou in Claremont, Pretoria.

Hulle is Vrydag, 13 Mei vanuit die AGS Herlewingsentrum in Mayville, Pretoria, ter ruste gelê.

Wyle Louwrense en Annie Badenhorst. Foto: Facebook/Louwrense Badenhorst

Pa en dogter word oorleef deur sy eggenote Annie, seun Devin (19) en dogter Kaylee (11). Die Badenhorsts was 25 jaar getroud.

Devin, wat vanaf die VSA teruggekeer het om die diens by te woon, was een van die kisdraers en het ’n huldeblyk aan sy pa en sussie gedoen.

Hy is as ’n bobaas tennisspeler deel van die tennisspan van Baylor Universiteit in Waco, Texas en het al verskeie tennisprestasies behaal.

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder by AfriForum en ’n goeie vriend van Badenhorst, sê hy dink daar is min ouens wat sulke diep spore getrap het, nie net in ’n gemeenskap nie, maar in die harte en lewens van baie kinders.

“Ek was maar ’n kwaai pa op my tyd, en hy het nog altyd rustigheid en ’n ander perspektief gebring,” vertel Kelder.

Devin Badenhorst tydens ‘n toernooi in 2019. Foto: Facebook/Laerskool Tuinrand
Wyle Michelle Badenhorst het voor die noodlottige ongeluk op 3 Mei ingeskryf vir Sarie-tydskrif se Voorbladgesigkompetisie. Foto: Facebook/Gibby Pretorius

Badenhorst het altyd vir Kelder se kinders opgekom, altyd gevra hoe dit met hulle gaan en hom vertel hoe trots hy op hulle kan wees.

“Hy kon ’n storie met soveel oorgawe vertel. Wanneer hy gelag het, het sy gesig saamgelag. Hy was een van die mees opregte mense wat ooit my pad gekruis het, [hy was] altyd so trots op Annie en die kinders en het altyd vertel hoe goed hulle doen,” vertel Kelder.

– Kliek hier om die kransleggingseremonie vir Louwrense Badenhosrt en sy dogter Michelle by Laerskool Tuinrand op 7 Mei te sien.

– Die gedenkdiens vir die Badenhorsts is regstreeks gestroom op 13 Mei:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na  [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.