South Africa

Metro staan myn van steenkool naby Rietvlei-reservaat teen

Die Tshwane metro sê die aansoek vir ’n mynlisensie deur Corobrik om die myn van steenkool voort te sit op die perseel en steengroef op die Delmaspad, sal ’n nadelige en onomkeerbare impak op die stad en omgewing inhou.

Volgens hul woordvoerder Lindela Mashigo, sal die watertoevoer en -voorsiening aan die groter gedeelte van Tshwane ook permanent hierdeur nadelig beïnvloed word.

“Die metro is dus glad nie ten gunste van die myn van steenkool op die 211 ha terrein wat as ’n gedeelte van Witkoppiesplaas bekend staan nie,” beklemtoon Mashigo.

Die kommentaar volg op ’n bekendmaking aan Rekord deur die omgewings-impakmaatskappy, Licebo, oor die vordering in die proses rondom die aansoek van Corobrik om steenkool te myn aan die suidekant van Pretoria naby aan die Rietvlei-reservaat.

Woordvoerder van Licebo, Ralph Repinga, sê dat die finale basiese assesseringsverslag (BAR) en omgewingsbestuursprogram (EPMr) is reeds op 12 Oktober aan die Department van Minerale Hulpbronne en Energiesake voorgelê.

DSC 0369 44093 e1700041057452
Ingang na Rietvleidam aan die Delmaspad se kant. Foto: Elize Parker
Die departement het volgens Repinga 107 dae na die voorleggingsdatum om hul besluit te neem of Corobrik kan voortgaan om op die terrein steenkool te myn of nie.

Die departement het dus tot 27 Januarie 2024 om ’n besluit oor die voorlegging van besware en die verslae te maak.

’n Moratorium op die myn van steenkool op die terrein, soos reeds deur Corobrik onderneem, is op 8 Maart vanjaar deur die departement ingestel.

Die rede hiervoor was dat alhoewel ’n aansoek vir die uitbreiding van mynregte deur Corobrik geplaas was in Junie 2022, geen mynlisensie nog deur die departement toegeken is nie.

Die maatskappy is in Maart gevra om ’n aansoek in te dien met ’n omgewings-impakstudie.

Die openbare deelnemingsproses rondom die impakstudie het op 8 September plaasgevind met ’n vergadering tussen die maatskappy, die omgewings-impakpraktisyn en die publiek te Pretoria Seiljagklub by die Rietvleidam.

Voorleggings is daarna deur verskeie partye gemaak wat nou deur die departement oorweeg moet word.

Mashigo benadruk die verteenwoordiger van die metro het tydens die openbare deelnamevergadering reeds bekend gemaak dat die metro klagtes en besware sal uitspel in hul voorlegging aan die Departement van Minerale Hulpbronne.

“Ons het inderdaad ook ’n voorlegging gemaak met sterk standpunte teen die voorgestelde veranderings aan bestaande mynregte om steenkool in te sluit,” beaam Mashigo.

Hy verduidelik dat die waterbesoedeling wat met steenkoolmyne gepaard gaan, kom teen ’n té hoë prys op ekologiese, ekonomiese en sosiale vlak vir die metro en sy inwoners.

“Die metro kan nie wetend sulke hoë-risikoprojekte toelaat nie. Die bestaande goedgekeurde mynwerksaamhede moet volgens ons beperk word tot die myn van skalie bo die steenkoollae. Die steenkool daaronder moet onaangeraak en ongemyn bly,” bevestig Mashigo.

DSC 0361 27802 e1700041073810
Die steengroef van Corobrik op die Delmaspad waar lae steenkool en skalie opmekaar volg. Foto: Elize Parker

Die metro stel voor dat ’n alternatiewe terrein meer as 1 000m weg van ’n bestaande residiensiële buurt moet as ontwikkelingsterrein gevind en ontgin word.

“Die voorgestelde ontwikkeling soos waarvoor daar aansoek gedoen is, het potensiële onheilspellende gesondheidsgevolge vir die area by wyse van waterbesoedeling. Daar is ook ’n oorhoofse gesondheidsrisiko vir die fauna en flora van Rietvlei-natuurreservaat,” beklemtoon Mashigo.

Hy verduidelik dat volgens die Geohidrologiese Impak-verslag, soos voorgelê deur die omgewingspraktisyn aan die Departement van Minerale Hulpbronne en Energiesake, wys dat daar ’n ondergrondse grondwaterdeposito onderliggend aan die beoogde ontwikkelingsterrein is.

Hierdie grondwaterdeposito se kwesbaarheid vir besoedeling is volgens Mashigo geklassifiseer as gemiddeld.

“Bykomend hiertoe wys die lys van sekondêre impakte van die mynaktiwiteite dat daar ’n daling in plaaslike grondwater is. Daar is ook boorgate in die omgewing wat opgedroog is volgens die lys,” wys Mashigo uit.

Die metro se kundiges meen die moontlike impak van die voorgestelde mynaktiwiteite sal dus nie tot ’n aanvaarbare vlak versag kan word nie.

Hy wys agter daarop dat die metro nog verifikasie van hierdie kommerwekkende gevolge afwag.

“Hierdie gevolge en die totale impak is tans nog nie gefinaliseer nie,” benadruk Mashigo.

kaartrietvleirt2 58112 e1700041097747
Die kaart voorgelê deur omgewings-impakpraktisyn, Licebo, om die area van die Witkoppiesterrein aan te dui waaroor die aansoek van Corobrik gaan.

Hy wys uit dat die Corobrik-aktiwiteite egter buite die stad se gesagsgebied val.

“Dit beteken dat Tshwane is net ’n belanghebbende en geaffekteerde rolspeler. Die metro sal egter oorweeg om hom op sy reg van appèl te beroep op enige besluit wat deur die department gemaak word.

“Indien die aansoek in Corobrik se guns beklink word, sal die metro ook met die departement in gesprek tree aangesien hulle die nodige mandaat en mag het om die nakoming van voorwaardes af te dwing,” sê hy.

Hy wys daarop dat die metro ook met die Stad van Ekhurleni en die Gauteng Department van Landbou, Landelike Ontwikkelling en die Omgewing in gesprek is oor die verslae en die aansoek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie