South Africa

Gemeenskapshervormers gee resep vir hoop aan

Meer as 100 belangstellendes het onlangs die byeenkoms van die PhilCofEast-denkersklub in Pretoria-oos by die Pretoria High School Old Boys’ klub in Brooklyn bygewoon.

Die bespreking het gedraai rondom die tema: “Moet Suid-Afrikaners bly en ’n verskil maak op vele vlakke van die samelewing met selfdoen-inisiatiewe of emigreer?”

Verskillende leiers in Suid-Afrika het van hul projekte vertel om gemeenskappe op die randjie van ineenstorting vir verskeie redes te red.

John Mathuhle het die vergadering ingelig van hoe hy as pastoor tydens die onluste op Senekal in die Vrystaat na die aanval en dood van Brendon Horner die twee faksies van boere en swart dorpsinwoners moes versoen en daarna die gemeenskap weer moes opbou.

johnrt 81781
John Mathuhle

Vandag is Senekal wyd en syd vir alle ander dorpe in Suid-Afrika ’n voorbeeld van ’n dorp wat die politieke gety omgedraai het.

“Ek moes my eie hart ondersoek onder die Heilige Gees se leiding vir enige vooroordele en hierdie standpunte eenkant plaas. Ek moes self verander voordat ek my gemeenskap kon verander,” het ’n emosionele Mathuhle verduidelik.

Hy glo dat gemeenskappe kan herstel indien die wonde gevind kan word wat versoening keer.

“Die plaasmoord het ’n diep emosionele wond in ons gemeenskap oopgekrap. Plaasmoorde is een groot wond regoor Suid-Afrika. Wie gaan die Samaritane wees wat hierdie wonde verbind?” het hy aan die gehoor gevra.
Sy oplossing is dat deernisvolle leierskap van vredemakers die verskil kan maak.

AndrevanPletzenr 77719
André van Pletzen

’n Sakeman van Kroonstad, André van Pletzen, het die belangstellende gehoor ingelig oor die werk van die Vrystaatse selfdoenbeweging, Ignite and Revive in Kroonstad.

Danksy dié beweging en sakelui van die dorp wat hande gevat het, kon die disfunksionele munisipaliteit transformeer en selfs onlangs as TV-program Kwêla, se “Dorp van die Jaar” aangewys word.

Van Pletzen skryf dit toe aan gemeenskapgedrewe skoonmaak- en herstelprojekte rondom geboue en paaie, sowel as projekte om die dorp weer mooi te maak vir toeriste en inwoners.

“Elke Suid-Afrikaner moet ’n streep in die sand trek en verklaar ‘hierdie is my dorp’. Daarna moet verantwoordelikheid geneem word en die hand moet doen wat die hand vind om te doen,” benadruk Van Pletzen.

DSC 9891 42725
Alma Darlington van Pretoria-oos

Die Ignite en Revive-model is ook reeds suksesvol in ander sukkelende munisipaliteite in werking gestel.

“Dit neem nie baie om mense hoop te gee nie. Ons het reeds 100 groepe in Suid-Afrika wat leiding wil neem en by ons wil leer,” verduidelik Van Pletzen.

’n Woordvoerder vir ’n privaatsektor landhervorming en landbou-ontwikkelingsinisiatief, Partners in Agri Land Solutions (PALS), Lennox Plaatjies, het die rol van die organisasie met sy opbouingswerk aan die gehoor verduidelik.

PALS werk daaraan om boere, regeringsinstansies en opkomende boere te laat saamwerk om ’n volhoubare landbou-omgewing te skep en daardeur ook landelike gemeenskappe te ontwikkel.

“Ek is ’n kind van ’n plaaswerker en my houding is landhervorming kan net plaasvind as ons ophou om mekaar te sit en dophou. Niks gaan verander as almal nie ’n bydrae maak nie,” meen Plaatjies.

Hy het self vanaf ’n aktivis-agtergrond omgedraai om eerder hande te vat.

Tydens die De Doorns-opstande in 2013, toe infrastruktuur van miljoene in die Boland verwoes is, het Plaatjies besluit om as gemeenskapsleier op te staan en ’n verskil te maak.

“Kom ons herskryf hierdie land se geskiedenis en ook die geskiedenis van landhervorming,” beklemtoon Plaatjies.

DSC 9914 32615
Doc Mabila

Ook aan die woord was die voormalige professionele sokkerspeler, Doc Mabila. Hy werk as programbestuurder vir Youthzones, ’n organisasie wat 60 000 tieners in 48 arm gemeenskappe help om hulself by wyse van sport en kultuur op te hef.

Mabila het van sy grootwordjare as ’n plaaswerker se kind vertel en vergelykings met transformasie en die Springbokke se oorwinning in die Rugby Wêreldbeker uitgelig.

Sy boodskap aan die jeug is: “Ons wil meer Siya Kolisi’s hê. Ons wil meer kultuurhelde aanhelp om ’n lewe uit kultuurbedrywighede te maak. Daar is altyd skoonheid en iets moois waar ons dit die minste verwag,” het die oud-veldwagter en antistropingsbeampte die gehoor mee bemoedig.

Hy glo die verskil in samelewings kan ook gekataliseer word indien mense kan sien diegene wat die meeste en die hardste skree in die politiek, se doel is bloot om te verdeel.

“Kom ons neem wat goed is uit elke kultuur in Suid-Afrika en bring dit met trots saam tot iets nuuts,” moedig Mabila aan.

petrusgrove 31827
Petrus Grové

Vanuit Ficksburg het ’n boer en stigter van die MD Foundation, Petrus Grové, aan die gehoor vertel hoe hulle as organisasie hoop aan gemeenskappe bring deur skole en klinieke te bou.

Hy het vertel hoe boere in die omgewing sedert 2010 lank bymekaar gekom het om vir die omgewing te bid en leiding gekry het om ’n nie-winsgewende maatskappy te begin om werkskepping te bevorder en só gemeenskappe te verander.

“Ons het besef dat met die klinieke en skole wat ons bou, moet ons die mense in die omgewing oplei om saam met ons die veranderingswerk te doen. Ons lei byvoorbeeld ouers op om skoolassistente te word.

“Dis nou 13 jaar wat ons wonderwerk op wonderwerk beleef.”

DSC 9889 05737
Herklaas en Louisa Meyer van Pretoria-oos

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.