Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie sê die vonnis wat op 12 September in die streekshof in Pretoria-Noord aan ’n kinderverkragter toegeken is, is gepas.
Moot-liedjieskrywer help verlange besweer met terugkomliedjie
“Skuldigbevinding en swaar strawwe soos in dié geval van ’n oortreder soos Des Erasmus motiveer maatskaplike werkers om slagoffers te help. Dit help hulle ook om te bly glo indien hulle doeltreffende bewyse kan indien, sal die hof die oortreders vonnisse toeken wat by die oortredings pas,” sê Maria Scholtz, SAVF se hoof van bemarking.
Des Erasmus (66) is tot vier keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy voormalige minnares se vyfjarige dogter.
Hy is ook 30 jaar tronkstraf opgelê vir twee aanklagte van seksuele aanranding en vyf jaar vir een aanklag van die vervaardiging van kinderpornografie.
Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Scholtz meen sulke skuldigbevindings en swaar strawwe is ’n groot deurbraak vir kinderbeskermingsorganisasies.
“Dit ondersteun ons maatskaplike werkers wat met uitdagings rondom sulke geweld teen kinders gekonfronteer word. Dit maak dit ook makliker om gemeenskappe, gesinne en kinders op te voed rondom die werklikhede rondom die bestaan van seksuele misdade teen kinders. Dit is, en bly belangrik om gevalle en voorvalle aan te meld wanneer daar ’n vermoede van seksuele misbruik en verkragting is,” benadruk Scholtz.
Scholtz sê maatskaplike werkers voel bemagtig om vir slagoffers ’n goeie uitkoms te kry wanneer hulle in die skuldigbevindings- en vonnisopleggingsproses kan glo.
“Kinderbeskermingswerkers soos die van die SAVF is van uiterste belang in gemeenskappe. Hulle beskerm en dien diegene sonder ’n stem om hulself uit te druk. Hulle help gemeenskappe om die stilte rondom seksuele misdade te breek,” sê Scholtz.
Die internasionale misdaadbekampingsorganisasie, Interpol, het Suid-Afrika in 2020 die verkragtingshoofstad van die wêreld genoem.
“Mense is geneig om verkragting nie so dikwels aan te meld as wat die misdaad verg nie. Die redes is hoofsaaklik as gevolg van die trauma, stigma en vrees daarrondom,” sê Scholtz.
Sy verduidelik dat een van die hoofredes hoekom kinders nie seksuele misdade teenoor hulle aangee of ’n volwassene daarvan vertel nie, is omdat hulle die oortreder ken en hul vrees vir verdere viktimisering.
Kinderregte-organisasies het volgens Scholtz bevind dat 45% van die verkragtings in Suid-Afrika kinderverkragtings is.
Sy bevestig ook dat navorsing wys meer as 50% van Suid-Afrikaanse kinders loop die risiko om voor 18-jarige ouderdom seksueel misbruik te word. Ten minste 85% van hierdie kinders sal hul oortreders ken.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to [email protected] or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram