South Africa

Affies-afrigter kwyt haar goed van haar taak as Netbal Wêreldbeker 2023 TV-kommentator

’n Gewilde sport-onderwyseres by Afrikaans Hoër Meisieskool en afrigter van die span wat vanjaar die DStv Schools Netball Challenge gewen het, staan haar plek vol by die Netbal Wêreldbeker 2023 in Kaapstad.

Die toernooi het op 28 Julie begin en die finale wedstryd sal op 6 Augustus gespeel word. Wedstryde vind by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaas.

Amanda Mynhardt (37), is egter nie op die bane in haar gewone posisies van doelwagter en doelverdediger te siene nie.

Sy verskyn op TV-skerms as kommentator vir die TV-kanaal SuperSport tydens wedstryde asook tydens ’n besprekingsprogram.

Met die analise van die wedstryde en halftydpraatjies daaroor is sy gemaklik.

“Ek dink die kuns om sportkommentaar te lewer het veel met blootstelling aan die spel te make. Ek glo egter ook mens word met ’n netbalbrein gebore of nie. Dis jou geskenk van Bo.”

Sy meen as jy nie hierdie geskenk ontvang het nie, is ontleding van wedstryde moeilik. Daarsonder moet jy ure en ure se wedstryde deurkyk om werklik ’n aanvoeling te ontwikkel.

Sy is nie ’n groentjie op die stel nie en het al telkens as kommentator tydens plaaslike wedstryde uitgesaai.

Affies-netbalafrigter Amanda Mynhardt (links) glo mens moet jou voorbereiding goed doen voor jy dit voor die kameras waag.

Dit is wel haar eerste keer om Wêreldbeker-kommentaar te lewer.

Sy dink haar eie ervaring op internasionale vlak as speler gee haar selfvertroue as ’n aanbieder.

Mynhardt was Protea-kaptein. Sy het onder meer tydens die 2010 Commonwealth Games asook in 2011 by die World Netball Championships in Singapoer Suid-Afrika verteenwoordig.

“Hoe meer jy na die spel kyk, hoe meer gaan jy iets raaksien om in jou kommentaar te gebruik.”

Sy hou van die internasionale omroeper Caroline Barker se styl.

“Sy maak dit altyd interessant vir haar kykers.”

Die uitsaaispan van SuperSport vir die Netbal Wêreldbeker 2023 saai van ‘n helder ateljeestel, maar ook vanaf die bane in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum se spesiaal ingerigte netbalbane af.

Sy glo egter elke aanbieder moet haar eie aanbiedingstyl ontwikkel.

“Ek dink jy kan strewe om beter te wees. Mens kan egter nooit werklik soos iemand anders wees nie. Karakters en persoonlikhede verskil.”

Wanneer sy vir ’n uitsaaibeurt voorberei, lees sy baie oor die spel en die spelers. Sy volg ook spelers op sosiale media.
Sy glo daaraan om voor wedstryde met spelers en afrigters te gesels om insig te kry hoekom hulle sekere strategieë gebruik.

“Die produksiespan voorsien ons ook van inligting en statistiek oor die spelers.”

Haar voorkeur is om in diepte oor ’n wedstryd te gesels en die verskillende elemente van die spel uit te lig.

“Jy moet weet waarvan jy praat. Om feitlik korrek te wees, is vir my belangrik.”

Die Netbal Wêreldbeker 2023 is verlede week ingelei met ‘n kleurvolle optog in een van die hoofarenas van die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum.

Sy hou van die SuperSport-span se positiewe energie.

SuperSport se bydrae word deur Andee Mahamba as ankeraanbieder gelei. Mynhardt is saam in ’n span kommentators wat Vanes-Mari du Toit, Zanele Mdodana, Nontle Gwavu, Simi Mdaka en Mampho Tsotetsi insluit.

Sy het opleiding as ’n joernalis. Tog moes sy gewoond raak aan al die uitsaai-tegnologie asook die ateljee-omgewing. Sy glo haar opleiding het die behoefte in haar gekweek om altyd inligting te wil gaan soek.

“Om die eerste keer al die knoppe en kontroles te bemeester, was nogals oorweldigend. Toe word die tegnieke tweede natuur. Dis mos so met als wat jy weer en weer doen.”

Sy loop lig vir die groot stadions waar klank altyd ’n uitdaging is as gevolg van die volume van die gebou.

“Al die geraas kan jou werklik onder druk plaas.”

Die druk om voor die kameras te wees is hanteerbaar vir Mynhardt.

“Dit is veel meer druk om op die baan te wees!”

Garsie atleet sorg vir nuwe wêreldrekord by Para Atletiek Wêreldkampioenskap

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.