South Africa

Braaibroodjies in die kollig met nuwe enkelsnit van Muller Brandt

Braaibroodjies is so uniek aan die Afrikaanse kultuur soos melktert en koeksisters en het baie kreatiewe resepte en video’s geïnspireer.

Hierdie humoristiese snit, wat elemente van blues, pop en rock kombineer, handel oor ’n ou wat twyfel of sy pragtige Crossfit-behepte meisie (gespeel deur Nykie Pretorius van Op My Eish! Seisoen 2) die regte een vir hom is, want sy kan nie braaibroodjies maak nie.

“Sy is pragtig en alles is in haar guns, behalwe vir die feit dat sy nie braaibroodjies kan maak nie en vir hom is dit ’n ‘dealbreaker’,” verduidelik die musikant oor die liedjie, wat deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig is.

“Braaibroodjies is sinoniem met wie ons as Afrikaners is, en ek wou ’n liedjie skryf wat getrou is aan wie ons is.

“Ons maak ook graag grappies: ‘Kan sy braaibroodjies maak?’ Dus die idee is daarop gegrond.”

In die musiekvideo, wat nou ook beskikbaar is, raak die hoofkarakter dan verlief op ’n ander meisie (gespeel deur die kunstenaar, Bibi) wat die beste braaibroodjies maak.

“Mense sal van die liedjie hou, want dit is opgewek en nooi jou om saam te sing,” deel hy.

Braaibroodjies is deel van sy debuutalbum Brand die Skepe,en volg in die voetspore van “Wildebees” en “Moedertaal” wat albei baie positief ontvang is en op verskeie groot radiostasies op die lys geplaas is.

Muller Brandt is gebore in Pretoria en het hier groot geword en werk al die afgelope 12 jaar al in die musiekbedryf.

Sy pa se liefde vir boeremusiek het sy eie passie vir sang aangevuur en hy het nog nooit sy droom om ’n voltydse musikant te wees opgegee nie.

Oor die jare het die 30-jarige kunstenaar baie loopbaanhoogtepunte gehad, insluitend die wen van Ontbytsake se liedjieskrywerkompetisie in 2023.

Op ’n vraag oor sy plan vir die toekoms sê hy dat hy reeds aan sy volgende enkelsnit werk en beplan om in 2023 soveel as moontlik tyd op die verhoog deur te bring.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.